HOFMEYR NUUS - Die opleidingsinstansie Hofmeyr Hugs of Hope op Hofmeyr, bied jaarliks opleiding aan Sassa-afhanklikes, waar daar saam met ouers besin word oor noodsaaklike aankope vir huishoudings wat slegs van Sassa-fondse afhanklik is. Tydens die opleiding word gebruik gemaak van biljette wat handelaars versprei met spesiale aanbiedinge.
Dit blyk egter dat spesiale aanbiedinge nie meer die begunstigdes se kosmandjie kan vul nie. Kruidenierspryse styg soms maandeliks met tot 10%.
Marlene Ewers, LP en DA-skaduminister vir maatskaplike ontwikkeling, het op 19 Augustus weer verwys na gevalle waar desperate ouers hul kinders doodgemaak het omdat hulle nie meer die armoede en onstabiliteit kon hanteer nie.
Bukiwe Fanta, LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, het onlangs aangekondig dat daar ‘n gesinsbewaringsprogram geimplementeer sal word, in reaksie op agt voorvalle die afgelope twee jaar in die Oos-Kaap waar moeders die lewens van hul kinders geneem het.
Ewers glo dat Fanta se verbintenis om R13,2 miljoen aan oueropleiding vir meer as 20 000 kwesbare gesinne te bestee, 'n noodsaaklike ingryping is, alhoewel meer inligting nodig is oor wat presies hierdie program behels.
“Terwyl ons hierdie inisiatiewe ondersteun, moet ons beklemtoon dat sulke programme nie ten volle doeltreffend kan wees sonder om die breër sosio-ekonomiese toestande aan te spreek nie. Ouers moet geleer word dat kinderfondse wat oorbetaal word, moet voorsien in die versorging van die kinders.”
Die werkloosheidskoers in die Oos-Kaap se landelike gebiede beloop tussen 49,7% en 57,7% en vier geslagte woon dikwels saam in een huis met tevveel monde om te voed.
Fanta word ook versoek om die heropening van maatskaplike ontwikkelingskantore, wat vir jare gesluit was, te prioritiseer om te verseker dat mense toegang het tot die ondersteuningsdienste wat die regering verskaf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’