GRAAFF-REINET NUUS - Daar is sterk teenkanting teen die voorgestelde sentralisering van die oproepsentrum vir mediese nooddienste na Gqeberha, nie net vanuit plaaslike regeringskringe nie, maar ook vanuit die gemeenskap.
Die voorgestelde skuif sal onder andere 20 ervare kommunikasiebeamptes van die Dr Beyers Naudé-distrik ontwortel en na Gqeberha verplaas.
Volgens Jane Cowley, DA skadu-LUR vir gesondheid, is 'n petisie deur bekommerdie inwoners van Graaff-Reinet en Nieu-Bethesda van stapel gestuur wat aan beide die Oos-Kaapse regering en die departement van gesondheid gerig is.
Cowley sê die minister van gesondheid, Tandokazi Capa, is versoek om hierdie "roekelose voorstel" dadelik terug te trek.
"Amptenare beweer dat die skuif EMS reaksietye sal verkort, digitale tegnologie sal benut en eenvormige standaarde as deel van hul vierde industriële rewolusie-agenda sal bevorder.
Hierdie doelwitte klink sinvol totdat 'n mens na die rekord van gesentraliseerde beheer in die provinsie kyk.
Die eKomani provinsiale oproepsentrum, wat met moderne hardeware en sagteware bekendgestel is, het misluk omdat die oproepnemers swak opgelei, en dikwels nie in staat is om hulp te stuur waar dit nodig is nie,” sê Cowly.
Sy is bewus van talle probleme wat op daaglikse basis aangemeld word vanuit die eKomani area.
Infrastruktuur
“Digitale toerusting is nutteloos wanneer die infrastruktuur ontbreek.
Baie landelike klinieke en hospitale in Sarah Baartman het steeds geen betroubare breëbandverbinding nie, ten spyte van beloftes van provinsiewye dekking deur die sesde administrasie.
Die integrasie van oproepe in 'n stadsgebaseerde spilpunt sal nie vinniger ambulanse lewer wanneer die netwerkverbinding faal of in die eerste plek nie bestaan nie,” sê Cowley.
“’n Globale posisioneringstelsel beteken niks as daar nie selfoonsein is nie.”
Alternatiewe
Die wetgewer se gesondheidsportefeuljekomitee beveel distrik- en subdistrikbeheer aan, sodat gemeenskappe sorg naby die huis ontvang.
Die departement self bevorder 'n spilpunt-en-speek-model vir distriksdienste, en die nasionale regering is 'n voorstander van dié distriksontwikkelingsmodel.
Die huidige voorstel weerspreek hierdie strategieë.
“Die departement het reeds duur betaal vir ondeurdagte personeeloorplasings.
Die sluiting van Orsmond TB-hospitaal het tientalle werknemers op die betaalstaat gestrand gelaat en meer as R130-miljoen in salarisse gekos vir mense vir wie daar nie werk was nie.
Om daardie fout met 20 EMS-personeel te herhaal, sal twintig gesinne ontwrig, onvoldoende fondse [verder] dreineer en die distrik armer in vaardighede laat," sê Cowley.
"Digitale tegnologie behoort dienste te verbind waar pasiënte ookal woon. Mediese nooddienste in ons provinsie word lamgelê deur chroniese wanbestuur, onvoldoende opleiding en partypolitieke aanstellings wat lojaliteit bo bevoegdheid stel - nie geografie nie.
Die departement kan eerder tekortkominge regstel as om nog 'n duur herorganisasie na te jaag."
Sy sê die inwoners van die Sarah Baartman-distrik verdien 'n responsiewe ambulansdiens in hul eie distrik.
Hulle wag reeds lank dat die departement van gesondheid hul veiligheid eerste stel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’