PROVINSIALE NUUS - Dameskring Oos-Kaap twee (gebied 13) se gebiedskonferensie in Burgersdorp het Vrydagaand, 26 April, afgeskop met ‘n paneelbespreking en ‘n heerlike kuieraand. Die paneel het bestaan uit voormalige uitvoerende bestuurslede, Elizabeth Vosloo, Marinda Schutte, Coreen King (voormalige president) en huidige president, Elphi Taljaard vanaf Pretoria.
Saterdagoggend, 27 April, is die konferensie voortgesit op die lang plaasstoep van Rhoom Gastehuis in Burgersdorp. Baby van Rijswijk en Terina de Bruin (twee oudlede van Burgersdorp-tak) is vereer vir hulle jare lange bydrae tot ons tak. Baby is benoem as die mees positiewe lid met deursettingsvermoë en Terina as stylvolste lid van Dameskring in die area.
Alna Belendez-Retief, eienaar van Rhoom Gastehuis, het die dag ingekleur met ‘n teeproe en kosparing. Van die tee word deur haarself met plaaslike kruie gemeng. Haar kennis van tee oor die wêreld was indrukwekkend en sy het insiggewende kennis met die gaste gedeel. Treffende geregte is saam met die tee bedien om die smaak uit te lig. Talle lede het agterna anders na hul koppie soet, melkwit tee gekyk.
Ons Verskilmaker-vrou 2024-toekenning het hierdie jaar aan, Teresa Opperman, van Hofmeyr gegaan. Hierdie opregte nederige vrou is die bestuurder van ‘n nie-winsgewende, multikulturele organisasie wat fokus op ontwikkeling van vaardighede en sodoende sorg dat werkloses die nodige opleiding kry sodat hulle selfonderhoudend kan raak: Hofmeyr Hugs of Hope volg die riglyne van die bategebaseerde gemeenskapsontwikkelingsproses soos deur Ikhala Trust geïnisieer word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’