CRADOCK NUUS - Elke huishouding in Suid-Afrika het op 'n stadium 'n ooraanbod van kompakskywe (CD's) gehad.
En... toe raak hul oorbodig, want musiek is deesdae sommer op jou selfoon.
Gail Weitsz, die gr. 9's se skeppende kuns- fasiliteerder by Cradock Hoërskool het haar leerders gevra om kompakskywe te herwin, as 'n taak, en daar was geen tekort aan vindingrykheid en splinternuwe planne nie.
Die soektog na dié kompakskywe was deel van die avontuur.
Daar was oral beskikbaar, by tweedehandse winkels, by Oupas en Oumas, in buitekamers en selfs tussen kosbaarste besittings, waar die skywe veilig bewaar was.
Blitsvinnig is reëlings getref dat dié musiek afgelaai kon word, sodat die tieners met die silwer skywe kon woeker en skool toe gaan.
Weitsz beduie dat sy graag aan die leerders wou wys dat bykans alles 'n tweede kans gegun moet word.
"Om te herwin beteken om iets nuut te maak en dit 'n tweede kans te gee.
Cradock Hoërskool se gr. 9 Kreatiewe Kuns-leerders het hierdie opdrag uitsonderlik goed verstaan.
Voorheen vergete en oud, het hierdie kompakskywe nou 'n nuwe betekenis om iemand se dag esteties op te helder."
Dié leerders was baie opgewonde om hierdie vrolike kunswerke huis toe te neem, om te gaan spog.
Sommige beplan om meer kompakskywe te versier en dit dan verder te herbenut!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’