ARBERDEEN NUUS - Die VLV Sirkel Middelland se konferensie is vanjaar deur die Aberdeen-tak in die NG Kerk se saal aangebied.
Geen moeite is op Woensdag 15 Maart ontsien nie en is gaste op die hande gedra. Die LED-sonlanterns in die geskenkpakke het die jaartema, Die uitdaging van verandering, gepas onderskryf.
Ingrid Boshoff, pastorale berader, het die konferensie geopen met verwysing na die knap vrou in Spreuke 30 en later oor geestesweerbaarheid te gesels.
Sy het gefokus op die jeug en gesê weerbaarheid moet in die ouerhuis gekweek word.
Low herkies
Hannelie Low is onbestrede herkies tot sirkelpresident vir nog 'n termyn en haar presidentsrede het gesentreer om die jaartema - verandering bied die vermoë om vorentoe te beweeg en relevant te bly.
Sy het beklemtoon dat die VLV moeite moet doen met verandering van persepsies; jonger vroue moet betrek word; en vergaderings moet dinamiese sprekers insluit. Na 'n uitsonderlike middagete het Low die jaarverslag voorgelê.
Rita Conradie, fisioterapeut, het vrouegesondheid bespreek, terwyl Tania Smit van Hekelwoorde-faam, gepraat het oor vrouwees en uit haar bundels voorgelees het.
VLV Aberdeen-erelid, Jean Watermeyer, het die sirkelpresident spesiale toekenningstrofeë oorhandig, en Elna van Niekerk die ander 29 trofeë.
Carpe Diem het die meeste punte versamel, met Alexandria tweede en Rocklands derde. Lynette Thirion het die gelukkige lootjie getrek wat aan haar 'n Marguerite Beneke-kunswerk besorg het.
Lea van der Vyver, visepresident, sekretaris en voorsitter van Aberdeen-tak, sê die konferensie het seepglad verloop.
"Die Aberdeen VLV-tak het as 'n span saamgewerk om 'n uitstekende konferensie aan te bied." Sy het ook die VLV se spesiale dank gerig aan die grootste kontantborge, BKB en OVK. Estelle du Plessis, VLVK-president, het dit bestempel as die mooiste konferensie wat sy nog gesien het.
Van spyskaarte tot servette en geskenkpakke - geen detail is weggelaat nie
VLV Konferensie goed op dreef.
Die kerksaal is koninklik konferensie-gereed. Foto's: Lize-Mari Jordaan
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’