KAROO NUUS - In talle klein dorpies verskyn huiswinkeltjies en ‘n eiesoortige ekonomie ontwikkel teen rasse skrede. Enige iets word te koop aangebied vanaf sypaadjies of in die skaduwee van ‘n afdak of boom. Elke Suid-Afrikaner (en toeris) wat hierdie land al besoek het, kan saampraat oor interessante informele winkeltjies wat hulle al raakgeloop het.
Enigiets van vetkoeke, klere, tot hoenderpote word verkoop. Dienste – deur skoenherstellers, skoenpoleerders en haarkappers wat kliënte in die oopte bedien –word aangebied.
Vanaf stoepe word eetgoed, koffie, klere en ook juweliersware bemark, en dan is daar die talle winkeltjies met vreemde handgeverfde name wat ons woonbuurte versier. Hier en daar is daar selfs ‘n ou karavaan wat ingespan word om warmbrakkies te bedien.
‘n Inligtingstuk deur BusinessTech sê dat dit blyk dat Suid-Afrika se informele ekonomie na raming sowat R750 miljard werd is en dit is weggesteek van die “belastingman”.
Die informele ekonomie-kenner GG Alcock het by die onlangse Biznews-konferensie in Londen gesê dat Suid-Afrika se ekonomie baie gesonder is as wat aanwysers aandui, en dit blyk duidelik uit die talle opslaanwinkeltjies wat oral hul verskyning maak. Dit gebeur veral in kleiner dorpies soos Aberdeen, Jansenville en Hofmeyr.
Alcock sê dat daar meer huise ter waarde van R1,5 miljoen en hoër in voormalige landelike gebiede en tuislande is as in Kaapstad en omliggende gebiede. Hierdie sienings word gerugsteun deur data van die eiendomskenner en -opvoeder Khali Masooane, wat onlangs gesê het die Soweto-mark het oor die afgelope dekade in prys verdubbel. Sy het gesê hierdie groei is ‘n verskynsel wat in onderontwikkelde woonbuurte regoor die land waargeneem kan word.
“Die woontbuurte het groeiende konstruksie-, agterkamerverhurings en spazawinkel-verhuringsektore. Net die agterkamerhuurekonomie in Suid-Afrikaanse onderontwikkelde woonbuurte is jaarliks al na raming R20 tot R40 miljard werd,” bevestig Masooane.
Soos duidelik blyk, ook in die Oos-Kaap, is spazawinkels, sjebiens, kitskoswinkels, salonne en motorherstelwerk van die vinnigste groeiende sakesektore.
Die informele superette wat produkte aan kliënte bied, is nog so 'n groeiende sektor. Tydens die onlangse data opname en -analise van die maatskappy Nielsen, is daar genoem dat hierdie sektor 'n geskatte jaarlikse besteding van R189 miljard oor 100 000 afsetpunte behaal het.
"Die groei in die informele spazasektor was ongeveer 24% per jaar vergeleke met 15% in die formele sektor," volgens hierdie Nielsen-opname.
Hoewel dié spazawinkeleienaars dikwels buitelanders is, betaal hulle sowat R25 miljard se huur aan Suid-Afrikaners wat die eiendomme besit waaruit hulle winkels bedryf word. In Hofmeyr is ‘n antieke huisie afgebreek en daar gaan binnekort ‘n besigheid bedryf word vanuit ‘n rooi- en geel geverfde behoueringskrat.
Enige inwoner in ’n klein dorpie is bewus van puik entrepreneurs in hul omgewing. Alcock bevestig hierdie bewustheid deur te meld dat hierdie besighede en entrepreneurs reeds bestaan . “Ons het honderde duisende van hulle, maar erken hulle nie,” het hy gesê.
Dit was egter insiggewend, vir alle entrepreneurs, dat hy opgemerk het dat hulle nie nuwe besighede hoef te begin nie en volgens hom, eerder gehelp moet word om te vergroot en besigheidsvernuf op te doen. “Gee hulle die hulpbronne en ondersteuning wat hulle nodig het. Die formele ondernemings moet met die informele sektor saamwerk om hulle te help groei en die Suid-Afrikaanse ekonomie te bevoordeel.”
In sy oorsig verskaf Alcock inligting oor die grootte van verskillende dele van die informele ekonomie om die belangrikheid daarvan te illustreer:
- Suid-Afrikaners verdien R20 tot R40 miljard per jaar aan agterkamerhuur.
- Die spazawinkelmark is jaarliks R189 miljard werd met meer as 100 000 spazawinkels.
- Spazawinkelhuur verdien R25 miljard per jaar.
- Die informele kitskosmark is jaarliks sowat R50 miljard werd met meer as 45 000 afsetpunte.
- 45 000 gelisensieerde tavernes en sjebiens verdien R110 miljard per jaar.
- Die taxibedryf verdien R50 miljard per jaar.
“ Hierdie besighede moet gevier en ondersteun word om groei in die onderontwikkelde woonbuurte- en landelike ekonomieë verder aan te dryf,” het hy afgesluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’