HOFMEYR-NUUS - Nelize Sieberhagen (6), ’n gr. 1-leerder van Primêre Meisieskool Oranje, het onlangs aan twee danskompetisies in Bloemfontein deelgeneem.
Nelize het ten minste 50% van Hofmeyr se rooi stof in haar bloed, en sy kan dans soos die perdeblomme wat oral in dié distrik voorkom.
Sy is ’n ballerina in opleiding by Dance Domination Studio, waar sy onder die wakende oog van Senicia Breytenbach dans.
By Just Dance Studio se eisteddfod verwerf sy goud vir haar groepdans in preprimêre ballet, asook goud in haar solo vir port de bras, sways en running.
Nelize het ook aan die Rising Stars Studio-kompetisie deelgeneem en trofeë ontvang vir haar deelname aan dans op nasionale vlak in vrystyl en solo.
Einde Mei het sy aan die Central Free State Dance Festival deelgeneem, waaraan dansers regoor die Vrystaat en Oos-Kaap ook deelgeneem het, en sy is sesde geplaas in die o. 7’s se stadige dans en sesde in die o. 7’s se vrystyl.
Hierdie was Nelize se eerste deelnames aan groot kompetisies, en volgens die beoordelaars het sy uitstekend gevaar.
Sy het ook einde Mei aan die Vrystaatse danskompetisie by Bobbiespark in Bloemfontein deelgeneem.
Sy neem ook op Donderdag 12 Junie aan Oranje Primêr se musiekaand deel, waar sy viool gaan speel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’