GRAAFF-REINET NUUS - Aangesien ernstige droogtetoestande in dele van die streek voortduur, het ‘n groep kerke ‘n beroep gedoen op alle inwoners van Graaff-Reinet en omgewing, om op Woensdag, 20 Februarie, nederig voor die Here te kom in gebed.
Die geleentheid, wat by die NG Graaff-Reinet-gemeente se kerk gehou sal word, is 'n gesamentlike inisiatief van verskeie kerke in die gemeenskap wat kragte saamgesnoer het om dit te reël, en sal dit in verskillende tale aangebied word om die groter gemeenskap van Graaff-Reinet tegemoet te kom.
"Kom verootmoedig jouself en bid saam vir ons boere, vir ons omgewing vir reën, ons groter gemeenskap en ook gemeenskapleiers in Graaff-Reinet," nooi dr. Ben van Tonder, leraar van die NG Graaff-Reinet-gemeente.
"Ons staan in die begin van ‘n nuwe jaar en die droogte knel die omgewing al vir ‘n paar jaar. Ons weet ook dat daar verskillende seisoene en tye is (wat droogte en reën insluit), tog weet ons ook dat ons tye in God se hand is. Daarom wil ons op hierdie dag met gebed ons totale afhanklikheid van sy genade weer toon."
Inwoners van gebiede wat reeds met goeie reën geseën is, word genooi om hul dank te kom betuig vir die reën, sowel as om te bid vir die droogte-geteisterde gebiede.
Die organiseerders nooi alle inwoners van Graaff-Reinet en die omgewing uit om tussen 13:00 en 14:00 by die Grootkerk saam te kom om te bid vir 'n einde aan die knellende droogte.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'