GRAAFF-REINET NUUS - Die NG gemeente Graaff-Reinet is gestig op 11 November 1792 en die eerste kerkgebou was vermoedelik laer af in Kerkstraat. Ds. Johan von Manger was die eerste leraar.
Hierdie eerste gebou het in 1799 afgebrand.
Die tweede gebou is voltooi in September 1800 op die huidige perseel waar die Grootkerk staan. Na die aankoms van ds. Andrew Murray in 1822 is daar dadelik begin met die oprigting van die derde kerkgebou.
Die vorige een is geheel gesloop en dienste is in die opelug en op plase gehou. Hierdie gebou (die derde een) is in 1823 voltooi. Dié gebou met sy strooidak, statige gewels, kloktoring en ringmuur het die gemeenskap vir 60 jaar bedien.
Murray is vir tien maande voor sy koms Holland toe om Nederlands aan te leer. Hy trou dan ook kort voor sy aankoms in Suid-Afrika met Maria Susanna Stegman. Hy en sy seun (wat hom opgevolg het), ds. Charles Murray, het saam 82 jaar diens aan die gemeenskap gelewer.
Ds. Charles Murray het groot belangstelling in tuinbou gehad en dit is hy wat in 1870 die beroemde swart-eik druiwestok agter sy pastorie - die huidige Reinethuis - geplant het. Hy was die eerste Graaff-Reinetter wat predikant hier geword het.
Die huidige kerkgebou is gedurende ds. Charles Murray se bedieningstyd opgerig. Met die landwye herlewing in die laaste helfte van die 1800's asook die groei in die gemeenskap, het die bestaande gebou te klein geword.
Daar is toe besluit om die bestaande gebou af te breek en een te bou wat groot genoeg sou wees om die mense te huisves - vandaar die bynaam "Grootkerk".
Die Moerderkerk Foto: Francois Schippers
Boustyl
Dit is in die Neo-Gotiese boustyl gebou. Die Kaapse argitek J. Bisset het dit ontwerp met aspekte van die Salisbury Katedraal in Engeland in gedagte; die boukontrakteurs was Grant & Downie. Die koste van die materiaal is laag gehou, want die gemeenskap het die klippe en vervoer voorsien.
Die totale koste was R31 600 plus 'n verdere R2 460 vir die ringmuur. Die toring is 45,72 meter hoog en die klok in die toring weeg 'n reuse 1 720 pond (781 kg).
Die klok het lank gedien as amptelike tydaanwyser vir die gemeenskap. Die kerk bied sitplek aan 1 500 mense.
Die vensters is van loodglas en die deure van soliede kiaathout - so ook die indrukwekkende preekstoel. Die banke is van Amerikaanse Greinhout gemaak. Tot 1941 moes gemeentelede hulle sitplekke huur teen ongeveer 50 sent - 75 sent per jaar.
Die gebou is op 21 Maart 1975 as 'n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.
Foto: Mandy Roets
(Inligting verkry by www. nggrootkerk.co.za/)
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'