ROBERT SOBUKWE DORP NUUS - Skole van regoor die Karoo het onlangs by Hoër Volkskool (HVS) in Graaff-Reinet bymekaargekom om die teaterstuk Onderwêreld op die verhoog te beleef.
Onderwêreld, oorspronklik ’n jeugroman deur Fanie Viljoen, is sedert 2017 die voorgeskrewe boek vir matriek (Afrikaans huistaal), en die opvoering het ten doel gehad om leerders te help om die boek beter te verstaan met die oog op die matriekeksamen.
Volgens HVS was dit ’n ervaring wat besonder na aan ’n matriekleerder se wêreld lê.
“Op hierdie stadium van hul lewens staan matrikulante self op ’n drumpel - tussen skool en die groot wêreld daar buite, tussen sekerheid en onsekerheid, tussen wie hulle was en wie hulle besig is om te word.
Onderwêreld raak juis hierdie spanning aan - die druk om in te pas, die versoeking om verkeerde keuses te maak en die soeke na jou eie identiteit,” het die skool gesê.
“Die verhaal herinner leerders dat elke keuse saak maak en dat die pad vorentoe nie altyd eenvoudig is nie.
Dit stel eerlike vrae oor waardes, vriendskap en verantwoordelikheid - temas waarmee elke matriek daagliks gekonfronteer word.”
André Lötter, bekend vir sy rol as Rickus Welman in 7de Laan, was deel van die toneelspan en het die ervaring beslis verder verryk.
Hy het die rol van Greg Owen (hoofkarakter) se pa, sowel as Dokter Alec Pienaar, vertolk.
HVS het opregte dank uitgespreek teenoor André Scholtz Produksies, wat hierdie kragtige opvoering na Karoo-skole gebring het.
“Julle passie en toewyding het ’n blywende indruk gemaak.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’