KAROO NUUS - Met agt wenners, drie borge en 100 ouers om 80 deelnemers uit agt grade te ondersteun, het Kamdebo Primêr se jaarlikse klank- en spelfees alle verwagtinge oortref.
Die skool in Lotusville, Aberdeen het op 2 Augustus die fees vir die tweede keer aangebied en vanjaar die amptelike ondersteuning van die Afrikaanse Taal en Kultuur Vereniging (ATKV) geniet.
Leerkrag Chené Venter, wat die fees geopen het som die dag as volg op: “Dit was omtrent ‘n suksesvolle dag van kuier, klets en bederf!”
Veertig leerders van gr. R tot gr. 3 het in die klankafdeling meegeding.
Die wenners was:
- gr. R - Nevaeh Olifant,
- gr. 1 - Androline Wit,
- gr. 2 - Briana Cedras en
- gr. 3 - Willreché Safers.
Dit was ‘n belewenis om die kleintjies woorde te sien klank waarmee grootmense dikwels sukkel.
Kelly Februarie, departementshoof van die grondslagfase, is trots op die prestasie van veral die skool se jongste leerders.
In die intermediêre- en seniorfase het 40 leerders vanaf gr. 4 tot gr. 7 woorde gespel.
Die wenners was:
- gr. 4 - Menachree de Vos,
- gr. 5 - Renicia Koopman,
- gr. 6 - Zahra Naeem en
- gr. 7 - Tenicke Draai.
In hierdie afdeling het leerders woorde soos komponis, improviseer, akkuraatheid, reënvalsyfer en getraumatiseerd gespel, maar daar was nie ‘n woord wat hulle akkuraatheid kon pootjie of iemand getraumatiseerd kon laat nie en skoolhoof Daniel Pieterse het tevrede geglimlag.
Die ATKV het vanjaar as die hoofborg opgetree en aan al 80 deelnemers pryse geskenk. Vir Kamdebo Primêr is die ATKV se betrokkenheid ‘n riem onder die hart.
Februarie vertel 'n ATKV-lid in Graaff-Reinet het verlede jaar die berig oor die fees in Graaff-Reinet Advertiser gelees en dit vir die streekbestuur aangestuur. "Volgende ding wat ons weet, kontak Jaco Spies, die streekbestuurder van die Oos-Kaap/Vrystaat/Noord-Kaap my," sê Februarie.
Beide Venter en Februarie sê die hoogtepunt van die fees was dat die leerders so goed spel, dat hulle telkens na die volgende graad se woorde moes oorgaan om ‘n wenner te bepaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’