CRADOCK NUUS - 'n Bekende in motorfietskringe, Gerhard Greyvenstein, beplan weer hierdie jaar op 13 April 'n motorfietsuitreik vanaf Trip'n in Cradock ten bate van Cradock-diereskuiling.
"Die Cradock-diereskuiling ervaar gereeld voedselnood en is dankbaar vir alle pogings wat aangewend word om benodigdhede vir ons diere in te samel," vertel Karin Human van dié diereskuiling. Greyvenstein vertel dat motorfietsryers jaarliks in groot getalle opdaag om hul betrokkenheid by dierewelsyn te bewys.
Almal kan egter betrokke raak en donasies by Trip'n en Supaquick in Cradock tot 13 April aflewer.
Onwelkome besoeker
Die diereskuiling sukkel ook met 'n groot probleem. 'n Kaapse Kobra daag gereeld by die skuiling op en pik die diere wat in die hokke is - veral op warmer dae. Human vertel dat die slang hoeka weer die afgelope week daar was, maar dat Wayne de Beer, Cradock se eie slangvanger nie beskikbaar was nie.
"Tot op datum het ons reeds sewe honde verloor. Die honde probeer die slang doodbyt, maar verloor telkens die geveg. Ons is elke keer te stadig," sê Human. Ongelukkig het die honde wat deur die slang gepik is dit nie gemaak nie, al het hulle pogings aangewend om die diere so vinnig moontlik by die veearts te kry.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’