CRADOCK NUUS - Vanaf 21 tot 26 Maart het 32 rugbyspanne by Hoër Landbouskool Marlow aan die 31ste Marlow en Santam o.13-rugbyfees deelgeneem.
Outeniqua se A-span het hierdie toernooi vir die vierde agtereenvolgende keer gewen wat hierdie keer op 26 Maart teen George-Suid plaasgevind het. George-Suid het van die negentiende minuut af voorgeloop en in die laaste oomblikke van die spel het Outeniqua ’n deurslaggewende drie gaan druk. Die wentelling was 5 - 3.
Altesaam 600 seuns het deelgeneem en elke span was vergesel van minstens een afrigter (95 afrigters in totaal).
Ouers kon spelers vergesel en die Marlow-kampeerterrein is deur die afgelope jare ingerig met ablusiegeriewe sodat ouers oor sportnaweke op Marlow kan kampeer.
Verskeie Kafees is by die onderskeie bane deur Marlow ouers en personeel behartig en die inkomste daaruit finansier die o. 15-rugbytoer later vanjaar. Marlow neem jaarliks hul o. 15-rugbyspelers op toer en probeer om dit vir die leerders teen minimale insetkoste aan te bied. Santam is reeds vir jare die hoofborg van die geleentheid.
Aktiwiteite waaraan die seuns kon deelneem was toutrek, swem, rugby, modderbad, kaskar resies, kleilat gooi, binnebandvaarte op rivier, en skaap-drolletjie-spoeg.
Daar was ‘n kerkdiens Sondagoggend en 'n Praise and Worship Sondagaand wat beide op die rugbyveld aangebied. Ongeveer ‘n duisend mense het op die skoolterrein tydens die fees gebly.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’