HOFMEYR NUUS - 'n Vindingryke jong boervrou uit die Hofmeyrdistrik het die hele dorp en distrik betower met haar suurdeegbrode waarby geen kitsgis gebruik word nie.
"Suurdeegbrode (ook bekend as soetsuurdeeg) gemaak van allerhande gesonde meel soos rogmeel, hawermeel, eltmeel of growwe meel met sade, het skielik baie gewild geraak toe die publiek begin besef dat 'n selfgekweekte suurdeegplantjie, oftewel aartappelplantjie, baie gesonder is as kitsgis met suiker en suur-byvoegings," vertel Elisma de Jager, mamma van twee kleuters en boervrou van die plaas Blaauwskop buite Hofmeyr.
"Ons ouer geslag onthou almal ons ma's en oumas se suurdeegplantjies wat deurgaans lewendig gehou moes word en wat hernu is na elke baksel," gesels 'n inwoner van Hofmeyr saam.
"Wie kan nou nie die swaarder, digter brode onthou wanneer 'n plaasouma 'n vars, warm brood op die ontbyttafel uitgedop het, en met gesmelte botter blink gesmeer het nie?"
De Jager het besluit om die volgende geslag ook te leer van die wonders van 'n suurdeegplantjie en bied nou twee keer per week opleiding aan by 'n plaaslike koffiewinkel.
Elke bakster kan eventueel haar eie suurdeegbroodjie, asook haar eie plantjie, huis toe neem om vars, tuisgebakte brood te maak.
In Hofmeyr is daar nou talle huishoudings waar geurige tuisgebakte brode daagliks uit die oond kom - 'n groot bederf vir gesondheidsbewustes.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’