GRAAFF-REINET NUUS - Joey van Wyk het 'n besonderse mylpaal bereik toe sy op 20 April haar 100ste verjaarsdag gevier het.
Sy is op 20 April 1922 in Carnarvon in die Noord-Kaap gebore. Dit was depressiejare en almal het baie swaar gekry. Haar laerskool was op 'n buurplaas sowat 10 km ver en sy moes elke dag met 'n donkiekar skool toe en terug.
"In die winter was dit bitterlik koud, in die oggende het die ryp sommer so op ons rue gelê, en in die somer was die middae skroeiend warm," vertel sy.
Van Wyk het haar hoërskool-loopbaan by Hoërskool Carnarvon voltooi waarna sy 'n onderwysbeurs ontvang en haar studies by die Steynsburg-onderwyskollege voortgesit het. Sy het twee jaar onderwys studeer en in haar derde jaar het sy huishoudkunde gedoen.
Haar eerste aanstelling as onderwyseres was in Calitzdorp en daarna het sy 'n hele aantal onderwysposte op ander dorpe beklee totdat sy uiteindelik 'n onderwyspos in Beaufort-Wes aanvaar het sodat sy naby haar ouers kon wees. Dit is dan ook daar waar sy haar trouman, Willem van Wyk, ontmoet het.
Na haar troue het sy en haar man na Graaff-Reinet verhuis waar sy steeds woonagtig is. Sy woon tans in die ouetehuis in Parsonagestraat. Sy het geboorte geskenk aan drie seuns en 'n dogter en het intussen ook nege kleinkinders en vier agterkleinkinders ryker geword. Sy het ongelukkig een van haar seuns, Willem van Wyk, aan die dood afgestaan.
Haar oudste seun, Don van Wyk, vertel dat blomme hom aan sy ma herinner – blomme in die tuin, blomme in die huis, blomme in die kerk … Kosmaak was ook altyd een van haar spesialiteite.
Sy was baie aktief in die Graaff-Reinet-gemeenskap. Sy was, onder andere, president van die Vroue-landbouvereniging (VLV) en ook lid van die skoolraad.
Haar twee seuns Don van Wyk en Gerrit van Wyk, dogter Mariana (Sussie) Roux, skoonseun Willem Roux, en skoondogters Karin van Wyk, Elsa van Wyk en Petro Scott het almal die spesiale verjaarsdag saam met haar gevier.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'