PRINS ALBERT NUUS - Een van die prestige-rykste projekte wat die dorp nog aangepak het, word beplan vir oor presies een jaar: Dit is die Karoo Journey to Jazz, 'n internasionale jazzfees wat van 4 tot 7 Mei 2023 hier gehou word.
Die projek is die inisiatief van die Prins Albert Gemeenskapstrust (PACT).
Op 'n gemeenskapsvergadering, wat deur plaaslike rolspelers bygewoon is, het Ingrid Wolfaardt, PACT-woordvoerder, die musiekfees namens die trust aangekondig, in samewerking met Brenda Sisane, uitvoerende hoof van Unesco se International Jazz Day/South Africa wat jaarliks op 30 April gehou word.
Sisane, 'n joernalis en uitsaaier, is een van die land se mees ikoniese radio-aanbieders. Sy is bekend vir haar werk om nasionale en internasionale kulturele bande te vestig.
Wolfaardt het gesê een van die eerste stappe is om 'n reëlingskomitee te stig.
Dit sluit verteenwoordigers van plaaslike en Wes-Kaapse toerisme, Kaapse Natuurbewaring en ander omgewingskundiges, die polisie, verkeersafdeling en nooddienste, plaaslike regering, gesondheid, jeugontwikkeling en die gasvryheidsbedryf in.
Voorleggings gaan ook gedoen word aan privaat en regeringsinstellings vir borgskappe.
"Ons begin met nul in die bank, maar ons weet waarheen ons op pad is en ons weet wat ons graag hier in Prins Albert tot stand wil bring. Musiek is 'n groot gelykmaker en jazz het die mag om daardie rol te speel. Benewens nasionale en internasionale jazz-musici, sal die musikante van ons dorp beslis betrek word. Dis 'n gemeenskapsprojek, niemand word uitgesluit nie.
"Ons gereedskap is hoop en bemagtiging, ons doelwit is 'n ekonomiese inspuiting vir die dorp."
Wolfaardt, sowel as Sisane, het gesê die Covid-19-pandemie was in baie opsigte vernietigend vir die kunste en kunstenaars en het hulle van optrede en dus 'n inkomste beroof.
Die afgelope twee jaar (2020 en 2021) se Internasionale Jazz-dag, waarvoor Sisane in Suid-Afrika verantwoordelik is, het ook as gevolg van die inperkingsmaatreëls gesneuwel. Maar dit is nou tyd om op te staan, volgens haar.
"Ek is 'n musiek-aktivis. Ek is mal oor jazz omdat daar soveel verskillende vorme van dié genre is. Dié fees wil mense bemagtig terwyl hulle hul talent ten toon stel.
" Vir Prins Albert bied dit die vooruitsig om as héle gemeenskap hande te vat en saam te werk "om verskillende kulture byeen te bring", het Wolfaardt gesê.
Lees meer op susterskoerant, Oudtshoorn Courant
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Karoo nuus'