JANSENVILLE NUUS - Nadat Jansenville deurgedring het as die Oos-Kaapse streekfinalis vir die gewilde Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie het diegene aan die stuur van die dorp se bemarking dadelik ingespring om die nodige voorbereidings te tref.
Opknapping van die park
Vandag sien die park in die middel van Jansenville aansienlik anders uit as sowat 'n maand gelede. "Hierdie park met die ou vervalle markgeboue waar talle haweloses slaap, is al vir jare 'n bron van groot kommer en verleentheid," sê Pauline van Zyl, voorsitter van die Jansenville & Beyond Tourism, die Sid Fourie Trust, en die SAWAS Health Memorial, asook kurator van die museums in Jansenville.
"Dit was onooglik vuil en die palisade om die park was stukkend en afgebreek op plekke en het van verwaarlosing en vandalisme gespreek." Sy vertel dat Jansenville & Beyond Tourism al twee jaar gelede aansoek gedoen het vir fondse om die palisades te herstel en 'n tuin daar aan te lê. Hulle het fondse vir hierdie doel by die toerisme departement gekry maar vir twee jaar lank was hul pogings om toestemming vir die implementering van die projek te kry, onsuksesvol. Met die aankondiging dat Jansenville die streekwenner van die Dorp van die Jaar-kompetisie is, het hulle uiteindelik toestemming ontvang om die park reg te ruk en sommer dadelik aan die werk gespring.
Markgebou
Volgens Van Zyl was die lelike ou markgebou die grootste uitdaging wat hulle ondervind het. Omdat dit so vervalle is sou dit duisende rande kos om dit te restoureer en daarom het Leoné Mulder, sekretaresse van Jansenville & Beyond Tourism, die leiding geneem om die gebou op te knap. Sy het al die skole, insluitend die kleuterskool, genader om te kom verf en sodoende die markgebou meer aanskoulik te maak. "Elke skool het 'n muur gekry om te versier en baie oulike skilderye het tevore gekom. Selfs kunswerke het op die mure gestalte gevind" vertel Van Zyl. "Die skole was baie opgewonde om ook deel van die projek te wees."
Tuine
Van Zyl het haarself op die tuine toegespits. 'n Kaal stuk grond, bekend as 'n eiland, met net 'n boom-stomp langs die stadsaal is omskep in 'n pragtige versierde driehoek met kaktusse en garingbome om die boomstomp te verberg. Boomstompe en aalwyne is ook gebruik om 'n onooglike wal agter die kerk te versier. 'n Boer van 'n nabygeleë plaas, PW Botha, het ook kom help om ou boomstompe wat al vir jare daar lê te verwyder.
"Baie vergaderings is die afgelope twee jaar deur die inwoners en die toerismekomitee met die munisipaliteit gereël en groot moeite is gedoen om die park beter te laat lyk," sê Van Zyl. "Hierdie uiters lelike seer in die middel van die dorp se oog lyk alreeds soveel beter en as alles volgens plan verloop sal daar binnekort 'n aalwyn en euphorbia tuin daar gevestig word."
Vandale
Die spannetjie se pogings om die dorp op te knap was egter nie sonder terugslae nie. Volgens Van Zyl het iemand die Dinsdagnag, nét voordat die Kwêla span in Jansenville sou arriveer, die lelikste woorde op die mure van die nuut geverfde gebou gespuit. Mulder moes toe die volgende dag 'n klompie helpers kry om die lelike woorde toe te verf voordat Kwêla daar verby gery het. Kwêla het op 23 en 24 Mei besoek aan Jansenville afgelê om met van die inwoners te ontmoet en die besienswaardighede te verfilm.
Vorige artikel: Jansenville gekies vir finale
Die kleuterskool het ook 'n muur van die vervalle markgebou versier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’