MURRAYSBURG NUUS - Murraysburg, die rustige klein Karoodorpie is op 10 Mei oorval met jagters van oral oor - 'n groot gebeurtenis op dié dorp, Murraysburg-jagkompetisie, het vir die 28ste jaar plaasgevind.
Boere, werkers, inwoners en veral die plaaslike landbougenootskap het hulle gewig ingegooi om van hierdie geleentheid 'n groot sukses te maak. Aan die stuur van sake was Jacques Theron junior en Johannes Slabbert.
Ten spyte van 'n sterk wind, kon die 30 spanne steeds goeie skote inkry. Elke span het bestaan uit vier jagters. Spanne kry vier ure in die veld om elkeen twee bokke te skiet. Punte word toegeken vir skootplasing, gewig en horinglengte. Terwyl die bokke beoordeel word, kon jagters smul aan heerlike canapés en koue biere. Hier kry die manne geleentheid om te spog oor hulle bokke.
Die jagters kom van alle uithoeke van Suid-Afrika en daar is selfs 'n jagter wat elke jaar uitvlieg uit Windhoek om hierdie groot gebeurtenis by te woon. Jagters bly op verskillende plase in die distrik en al die gastehuise in die dorp is ook volbespreek.
Die hoogtepunt is natuurlik die prysuitdeling die aand waar jagters beloon word vir hulle vernuf. Karel Bester ry al die pad van die Kaap om die aand die jagters te vermaak. Die landbougenootskap se kombuis het die jagters voorsien van 'n heerlike spitbraai.
Sonder borge kan hierdie kompetisie nie gehou word nie en daarom was Murraysburg só dankbaar vir elkeen. Die hoofborg, Humansdorp-koöperasie, het meer as R200 000 se pryse geborg. Karoo Taxidermy, Vredesig stoet, Bextrans, Farmwise,
Spandau Spar en Smhart Security het 'n groot bydrae tot die dag se sukses gelewer. Fondse word ingesamel vir die Landbougenootskap, Murraysburg se NG Kerk en Elsjé Kruger Privaat Skool.
Vanjaar se wenners was:
- Die swaarste bok is vanjaar deur Gerrit Els geskiet met 'n gewig van 40,2 kg op die plaas Brandkraal van Peet de Klerk.
- Die bok met die langste horings is deur Willem Olivier geskiet met 'n lengte van sowat 38,5 cm op die plaas Harmonie.
- Die beste skut van 2024 was Johan van Zyl wat 'n Schmidt & Bender geweerteleskoop gewen het ter waarde van R28 000, geborg deur Humansdorp-koöperasie.
- Vanjaar was die wenspan The Lone Rangers. Hulle wen 'n prys ter waarde van R37 000, geborg deur Humansdorp Koöperasie en Smhart Security.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’