GRAAFF-REINET NUUS - Ivan Stock, 'n sakeman van Cradock en 'n bekende duiweboer wat met sy wedvlugduiwe landswyd meeding, het na Pattaya in Thailand gereis waar sy duiwe in die Pattaya Internasionale Duifwedvlug deelgeneem het.
Die Pattaya is die absolute hoogtepunt vir wedvlugduiftelers en Stock sê dat hy reeds in Mei verlede jaar sewe duiwe na Pattaya gestuur het, waar hul opgeneem is in die ICE hokke, wat dan die duiwe oplei in Thailand en hul gereed kry vir die wedvlug.
"Drie van my duiwe het in vorige wedvlugte uitgeval, maar ek was gelukkig om vier puik duiwe te kon inskryf vir hierdie jaar se finale wedvlug.
Die wedvlug is nie sommer net 'n gewone wedvlugduifuitdaging nie. Duiwe moet 'n veeleisende roete voltooi in tropiese klimaatsomstandighede. Neem ook in ag dat slegs topduiwe vanoor die hele wêreld inskryf."
"Die duiwe moet 'n afstand van 530km aflê. Altesaam 11 418 duiwe het vir die wedvlug ingeskryf, met 6 101 wat in die finaal kon wegspring.
"Al vier my duiwe het teruggekeer, wat natuurlik op sigself 'n wonderlike ervaring vir enige wedvlugduiweboer is," sê Stock.
Stock het 443ste posisie behaal en sy wenduif was die 5de Suid-Afrikaanse duif wat oor die wenstreep gevlieg het om die klok te lui.
Daar was heelwat ander Suid-Afrikaanse deelnemers, waaronder ook Anton Schonken van Cradock, maar die Advertiser kon nie met Schonken kontak maak nie.
Die duiwe van die Benzing Cradock Gemeenskapshokke het 'n groepstoekenning verower, wat Stock in ontvangs geneem het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’