JANSENVILLE NUUS - By Huis Welverdiend in Jansenville is die inwoners onlangs heerlik bederf met manikure en pedikure.
Bestuurder Leoné Mulder vertel dat Piet "Pedi" en Minnie "Mani" kom kuier het, sodat die inwoners heerlik bederf kon word.
"Die dames het nou lekker sagte, gladde hande met mooi naels en die manne het sagte, kraaklose voete, buiten twee manne wat gevoel het hulle hande is meer belangrik as die voete. Dit was vir elkeen 'n lekker bederf!"
Die voorsitter van Huis Welverdiend se bestuursraad, Pauline van Zyl, het op 24 Augustus verjaar. Huis Welverdiend het haar reeds op 23 Augustus bederf
"Dit was vir ons by die tehuis 'n voorreg om 'n sjampanje ontbyt saam met Tannie Pauline en oom Jannie te kon geniet. Ons was ook bevoorreg om die ander beheerraadslede, buiten Ds Smith Willie Snr wat ver kuier, by die fees te kon hê. Huis Welverdiend wens Tannie Pauline 'n geseënde nuwe lewensjaar vol geluk, voorspoed en goeie gesondheid toe.
"Die inwoners en personeel waardeer haar en is lief vir haar!"
Huis Welverdiend se B-Blok se sonkamer en die voorportaal het ook splinternuwe baadjies gekry.
Met die hulp van Ben Roos het die mure sommer gou kleur gekry. Mulder en Roos het tot laat saans nog geskilder. Maar stywe nekke, rûe en knieë het gou verdwyn toe hulle terugstaan en die prentjies aanskou.
Anita van Tonder het die voorportaal versier en dit lyk nou sommer baie spoggerig by Huis Welverdiend!
Pauline van Zyl, vooorsitter van Huis Welverdiend se bestuursraad, is bederf met 'n sjampanje-ontbyt.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’