GRAAFF-REINET NUUS - Die Graaff-Reinet Kanker-vereniging het verlede Vrydag 'n skenking van R18 500 van Hoër Volkskool ontvang wat die skool tydens hul Jol vir Kanker ingesamel het.
Die skool het gedurende Oktober die aardige bedrag met 'n potjiekoskompetisie, koekverkope, donasies en 'n mini-gholf put-putt kompetisie ingesamel.
Die vereniging waardeer dié ruim donasie opreg. Al hul werkers is vrywilliges en niemand ontvang betaling vir hulle dienste nie.
Die vereniging se doel is om kankerlyers se pad ligter te maak en help kankerpasiënte met kospakkies, vervoer en verblyf as pasiënte moet reis vir behandeling.
Die vereniging gee ook kersgeskenke, berading, matrasse, beddegoed en ander hulpmiddels aan kankerpasiënte wat aanklop vir hulp.
Graaff-Reinet Kanker-vereniging bestaan al 51 jaar en kry geen staatshulp nie.
Hulle bedank die skool en gemeenskap vir hul oop hande en harte.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’