ABERDEEN NUUS - Drie atlete van Husky's-skeerdienste uit Aberdeen-distrik het vanjaar gekwalifiseer vir deelname aan die jaarlikse SA nasionale skeer- en wolhanteringskampioenskappe, aangebied op 26 en 27 April tydens die Bloemskou in Bloemfontein.
Swannie Heinse en Elrico Smit het as skeerders skouers geskuur met Suid-Afrika se beste skeerders in die masjienskeer-ope-afdeling, terwyl Heinrich Meyer in die junior wolhanteringsafdeling sy merk gemaak het.
Chris (Husky) en Carina Esterhuizen, eienaars van Husky's-skeerdienste, verduidelik dat kompetisie in die ope-afdeling groot en omvattend is: "Dit is die afdeling waarin professionele skeerders wat daagliks skeer, deelneem. Kompetisie in die afdeling is fel, met skeerders uit selfs Lesotho wat deelneem. Beoordeling is streng volgens verskillende aspekte, nie net hoeveelheid nie."
In die afdeling moet meer as 120 skape per dag geskeer word, met gelyke fokus op spoed en kwaliteit. Beide Heinse en Smit het deurgedring tot die halfeindronde, met Heinse wat vandaar in die eindstryd die sesde plek behaal het. Heinse het ook die sesde plek behaal in die SA's-afdeling.
Meyer, as wolhanteerder, was in die junior-afdeling een van die gunsteling kompeteerders en het die halfeindstryd gemaklik gehaal.
"Dis maar die derde kompetisie ooit waaraan Heinrich deelgeneem het," sê Esterhuizen. Een ongelukkige fout het Meyer 'n moontlike plek in die eindstryd gekos.
Beide Carina en Husky is toegewyd betrokke in die skeerbedryf en -kompetisie, met meer as 20 jaar ervaring as beoordelaars en Husky wat self 'n skeerder van formaat is. "Skeer het vir my as 'n stokperdjie vir sakgeld begin en kort voor lank het dit gegroei tot 'n besigheid en ek het self vir vyf jaar voltyds geskeer."
Swannie Heinse in aksie.
Husky's-skeerdienste is in hulle elfde jaar van besigheid en trots plaas en plaaslik. "Ek en Carina is beide plaaskinders en Swannie en Riekie het hier op die plaas grootgeword. Heinrich is ook van Aberdeen afkomstig."
Esterhuizen sê hulle oog is nou op voorbereiding vir die 2025-kompetisie wat 'n baie belangrike jaar gaan wees: "Ons wil vanjaar aan soveel moontlik kompetisies deelneem, want by die 2025 SA's word die Suid-Afrikaanse span gekies om in 2026 deel te neem in Nieu-Seeland."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’