HOFMEYR NUUS - Hugs of Hope het die afgelope week vroue, wat by die instansie betrokke, is onthaal.
Hulle is met 'n keurige middagete by die kerksaal bederf en donateurs en werkers was ook teenwoordig.
"Hugs verstaan vroue en werk ook gereeld met vroue wat deur uiters moeilike omstandighede in hul eie lewens gegaan het. Juis daarom kon Hugs met oorgawe uitreik na vroue in die Hofmeyr-gemeenskap.
"Alle vroue, wêreldwyd, weet dat spesiale vroue op Vrouedag herdenk word, maar elke vrou is spesiaal in eie reg. Vroue begelei, onderskraag, ondersteun, vergesel, vertroos, verstaan en is altyd beskikbaar. In goeie tye, maar ook wanneer dit minder goed gaan," was die boodskap van die finansiële bestuurder, Mariaan Schoeman.
"Hugs salueer vroue. Vroue wat uit die stof opstaan, 'n voorskoot aantrek en voortgaan. Vroue wat hul trane afvee en dan 'n nuwe sakdoek neem om almal om haar te troos. Vroue wat hul eie seer vergeet wanneer hul ander se seer op hulle eie skouers laai. Vrouens wat uitreik om 'n drukkie te gee wanneer woorde te min is.
Vroue wat planne maak, uit die boks dink, opruim na die oorlog, maar ook opruim na 'n fees. Hugs sê dankie aan elke vrou."
Hettie Hänker was in beheer van die ete wat bedien is.
Sy is bygestaan deur Mariaan Schoeman, Tari Chinyangu en Emma Roux. 'n Elandskenkelpot met stampmielies en soetpampoen is bedien met sagopoeding as nagereg.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'