HOFMEYR NUUS - Die opleidings- en opheffingsinstansie, Hugs of Hope, het die afgelope week twee verteenwoordigers na 'n projek- en organisasiebestuurswerksessie in Gqeberha gestuur.
Die opleiding by The Willows-konferensielokaal is deur Ikhala Trust gefinansier en Ninnette Eliasov van Elamanzi Opleidingsinstituut het as fasiliteerder opgetree.
Altesaam 33 afgevaardigdes het die opleiding bygewoon en 14 nie-winsgewende organisasies en projekte uit die bedieningsarea waar Ikhala Trust aktief optree as finansieringsvennoot is verteenwoordig.
Talle begrippe vanuit die bate gebaseerde gemeenskapsontwikkeling opleidingsmodule (Asset Based Community Development) is uitgelig, waarna projekbeplanning, bestuur, finansiering, samewerkingsooreenkomste, insette en uitkomste asook die opstel van finansieringsaansoeke, SAID-kwessies en besigheidsplanne wat voldoen aan alle vereistes, van veral ook staatsdepartemente, behandel is.
Verteenwoordigers is ook onderrig om die visie, missie en mikpunte van hul instansies te bepaal en te verwoord en die nodige logo's te ontwerp en in sommige gevalle is dit ook aangepas om by nuwe ontwikkelings in te skakel.
Nuutgestigte nie-winsgewende organisasies word dikwels versoek om 'n konstitusie in te dien, en dié omvattende dokument is ook bespreek sodat die impak wat dit op die toekoms van so 'n instansie het, ook duidelik gemaak is.
Finansiële bestuurspraktyke van alle projekte en organisasies is ook onder die loep geneem, want volgens wet is daar duidelike vereistes oor finansiële bestuur van ondermeer nie-winsgewende organisasies, klubs, maatskappye, koöperasies en verenigings.
Opleiding is oor vier dae aangebied en verteenwoordigers het dikwels nog tot laatnag probleme en werksopdragte bespreek. Alle instansies kon onder mekaar netwerk wat toekomstige bemarkings- en samewerkingsooreenkomste sal vergemaklik.
Verskeie opleidingsinstansies in vaardigheidsontwikkeling, asook sopkombuise, voedingskemas, 'n instansie wat jong seuns sonder 'n vaderfiguur ondersteun, kunstenaars en selfonderhoudende tuinprojekte was verteenwoordig.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'