GRAAFF-REINET NUUS - 'n Bakkievrag Afrikaanse onderwyshulpmiddels aan Hofmeyr Hugs of Hope, het op 27 November vir talle fasiliteerders by al die skole on Hofmeyr, waar Afrikaans nog aangebied word, die lig laat val op 'n 2025 vol vreugde.
Laerskool Excelsior, die groen laerskool in Kentstraat, Mount Croix, Noordeinde, het onlangs verneem dat hul nie langer Afrikaansmedium as onderrigtaal sal gebruik nie.
Elmarie Lötter, skoolhoof by die laerskool, het besef dat daar elders in die Oos-Kaap groot aanvraag sal wees vir die hulpmiddels waarvan Excelsior moet ontslae raak.
Sy het Hofmeyr Hugs of Hope gekontak, en dié vaardigheidsontwikkelingsinstansie in Hofmeyr het onmiddellik 'n plan beraam om die vrag hulpmiddels te gaan haal.
Die span fasiliteerders het in 'n japtrap die bakkie volgelaai met leesboekies, hulpmiddels, vakhandleidings, lêers, plakkate om klasse te versier, kinderbybels, Afrikaanse kinderstorieboeke, skêrtjies, potlode, kryte legkaarte, blokkies, kunsstempels, flitskaarte, kwassies en fasiliteerdersklasgidse.
In Hofmeyr by Hugs het Karen Lord, Ronel Gouws en Elri Jordaan onmiddellik begin beplan en Laerskool Hofmeyr, DRC Primêr in Twinsville, Hasie Kalbassie Speelskool in Cradock,
Schoombee Primêr en Small Steps-kinderoord in Cradock het elk 'n ruim donasie ontvang.
"Selfs leerdertjies sonder geboortesertifikate gaan baat vind by die donasie, want in Hofmeyr is dit 'n reuseprobleem omdat staatskole nie bystand ontvang vir leerders sonder geboortesertifikate nie," sê Karen Lord, afgetrede fasiliteerder en skoleskakelpersoon by Hugs.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’