GRAAFF-REINET NUUS - Welwillendheid begin ongetwyfeld tuis en juis daarom het die raad van die plaaslike Middellandse-hospitaal in Graaff-Reinet hand in eie boesem gesteek en weggespring met die eerste van vele herlewings projekte om die hospitaal ‘n aangenamer plek vir beide personeel en pasiënte te maak.
Raad sekretaresse, Rosemarie Koeberg, noem dat hul graag waardigheid wil gee aan veral die personeel wat onder moeilike en vervalle omstandighede lewensbelangrike dienste aan pasiënte moet lewer.
Daarom het die raad dit goed gedink om in samewerking met die bestuur van die hospitaal ‘n behoefte bepaling te maak van wat nodig sou wees om so vêr moontlik aan hierdie behoeftes te voldoen.
In samewerking met raad penningmeester, Johnny Swartz, is daar op 19 Desember omtrent geseëvier met nuwe glase en waterbekers vir elke bed, ‘n televisie vir die kindersaal, ketels vir die verpleegsters se rusareas asook drie waterfonteine vir pasiënte en besoekers.
Die oorhandiging is deur die voorsitter, Thandeka Majoka, aan Marie de Vos, uitvoerende hoof van die Middellandse-hospitaal, gemaak. De Vos het namens die hospitaalpersoneel en pasiënte haar dank uitgespreek teenoor die raad se ondersteuning en hulp.
Sy noem ook dat die raad fondse geskenk het om met Kersdag en Nuwejaarsdag die pasiënte te bederf met ‘n heerlike ete en ook klein geskenkies uit te deel.
Koeberg verduidelik geesdriftig dat daar nog baie behoeftes is om aan te voldoen en dat hul enige hulp van die gemeenskap met ope arms sal aanvaar en aanmoedig.
Huisraad soos mikrogolfoonde, televisies en dies meer word benodig en kan daar met die raad in verbinding getree word as daar enige skenkings gemaak kan word. Deurlopend wil hul ook ‘n staatshuis, wat bewillig is deur die departement van gesondheid, inrig vir dokters en spesialiste wat Graaff-Reinet toe sal reis om roetine ondersoeke plaaslik te kom doen, aangesien soveel plaaslike pasiënte Gqeberha toe moet reis met die ambulans.
Dit gaan soveel verligting bring aan die behoefte van ons plaaslike pasiënte. Die gemeenskap se hulp in die verband sal opreg waardeer word.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'