HOFMEYR NUUS - Hofmeyr VLV en Tuinbou het op 2 Desember hul jaarafskeid by Alta Lekker in Steynsburg gehou.
Die restaurant, wat onlangs deur Alta Herselman, ’n lid van albei die verenigings, geopen is, het vinnig gewild geraak onder inwoners en ’n besoekpunt vir toergroepe geword.
“Wat ’n heerlike afsluiting van die jaar was dit nie! Die atmosfeer en kos was net so lekker soos die geselskap.
Dankie aan almal wat deel was van hierdie spesiale dag; dit was ’n perfekte manier om die jaar af te sluit,” het Nadia Bosch, voorsitter van Hofmeyr VLV en Hofmeyr Tuinbou, gesê.
Alta is bekend daarvoor dat haar hande nooit stil is nie.
Sy brei en hekel, ontwerp juwele en is ’n baasbakster van fyngebak.
Daarby het sy ’n groot tuin waar in die verlede al troues aangebied is. Maar toe sy as onderwyser aftree, wou hierdie flinke vrou nie stilsit nie.
Sy en haar man, Willem, het ’n gebou aan die hoofroete van Steynsburg gekoop en gerestaureer - en Alta Lekker was die produk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’