HOFMEYR NUUS - JF Burger (30), ’n kranige ruiter van Dagbreek, in die Hofmeyrdistrik, het die afgelope naweek weer by die Hofmeyr-skou gewys waar sy talente lê.
Burger verruil met die grootste graagte sy rolstoel vir sy perde, en dan is sy vreugde vir almal in die omtrek sigbaar en hoorbaar.
Op Saterdag, 22 Maart, het JF saam met sy ouers, Kobus en Thaleen Burger, by die Hofmeyr-skou opgedaag, en hy was gereed vir elke moontlike uitdaging wat sy pad kon kruis.
Sy regterhand, Philemon Bhandi, en sy afrigter, Lizette Jordaan, moes behoorlik bontstaan om tussen die klasse sy perd en ponie vir elke volgende vertoning gereed te kry, maar gelukkig verskaf dit vir beide van hulle net soveel vreugde.
“JF het in 2018 sy Kaapse boerperd, Smallies Bobby, by Rochelle Stander in Middelburg gekoop. Hierdie afgetrede skouperd is sy trots,” sê Thaleen.
Jordaan sê JF is vaardig genoeg om self vir kort stukkies te stuur, maar aangesien sy perd ’n afgetrede kampioen is en steeds die opwinding van skares wat handeklap ervaar, is dit ’n bietjie van ’n risiko om hom alleen te laat stuur wanneer sy perd te warm en opgewonde voel.
JF word reeds sedert sesjarige ouderdom deur Jordaan afgerig by JF se Joy for Grace Stalle in Hofmeyr, en sy versorg ook deurgaans sy staatmakers, Trompie, Smallies Bobby, asook vir Shady Lady, sy ponie.
Shady Lady trek die hotjieskar, wat spesiaal deur Ali Salassa in Macassar vir hom gemaak is.
JF was eerste in die terapeutieseryklas en het ook in die fancy dress-klas eerste gekom, aangetrek as ’n visserman van Macassar, selfs met ’n vis aan ’n visstok.
Johnny Murdoch het as beoordelaar by Hofmeyr se skou opgetree.
Hy het by die Whipalong-saalperdstalle buite Steynsburg grootgeword en het jare se ervaring in saalperde, skouperde en is ook ’n beslaner. Alhowel hy self nie meer skou nie, is hy ’n professionele beoordelaar en afrigter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’