HOFMEYR NUUS - Nadat Lottoland in Augustus 2023 aan Hofmeyr R240 000 bewillig het met die spesifieke doel om toerisme te bevorder, stop toeriste nou hier, want “die dorpie is nou so mooi, hulle wil dit nie mis ry nie”.
Sewe muurskilderye is oral in die dorp aangebring, en vier plaaslike kunstenaars het van hul kunswerke beskikbaar gestel as groot advertensieborde oral in die dorp.
Rooi vuilgoedblikke is op sleutelpunte aangebring.
Die opruiming van die onwettige stortingsterrein by die ingang van die dorp, langs die R390, was die grootste taak.
Die area is nou met natuurlike plantegroei bedek, en na die reën is dit 'n lushof vir voëls en wild.
'n Nuwe stortingsterrein is ook aangebring wat nou selfs vir 'n man met 'n kruiwa binne bereik is van die dorp.
Lin Opperman, bekende skilder van Hofmeyr, het 'n skildery beskikbaar gestel vir die naamborde, wat weerskante van die dorp aangebring kon word, terwyl Caria Froehlich in samewerking met Isabel du Plessis, verantwoordelikheid aanvaar het die seënwense wat die reisigers by ingange verwelkom.
Hofmeyr het verlede jaar sy 150ste verjaarsdag gevier.
Daar was weer 'n toeloop van toeriste oor die Desembervakansie, en "die besoekers was almal rustiger as verlede jaar toe almal net op 16 Desember vinnig gestop het".
Talle besoekers het onder die koeltebome in die parkie vertoef, of gekuier op die stoepe van die Victoria Boetiek Hotel en middagete in die Victoriaanse eetkamer geniet.
"Dit is regtig asof die gaste hierdie jaar eers werklik die ambiance van ons dorpie ingeadem het," vertel ’n plaaslike inwoner.
By die Farmhouse Restaurant was daar van 13 Desember tot 12 Januarie in totaal 4 654 besoekers, sommige ook met troeteldiere.
'n Besoekersboek is geteken deur besoekers vanuit die Verenigde Koninkryk, Mauritius, Nieu-Seeland, Costa Rica, Duitsland, Singapoer, Frankryk, Switserland, Tanzanië, Rusland, Swede, Kanada, Ierland, Australië , Amerika en Suid-Afrika.
By die Victoria Boetiek Hotel vertel Jackie Human dat 240 oornaggaste en 960 vyfster-aansit etes bedien is.
Drie besoekers vanaf Rusland was ook daar. Op Kersdag het sy drie vol eetsale, kort na mekaar, met 'n vyfgangmaal bedien.
Klipplaatsdrift Safari Lodge het altesaam 127 selfsorggaste van 16 Desember tot 10 Januarie gehuisves, waaronder gaste vanaf Duitsland, Switzerland, Verenigde Koninkryk, en Saoedi-Arabië.
Karoo River Rafting was twee dae oop vir 'river rafting' wat deur sowat 40 avonturiers meegemaak is. 'n Gesin van Australië het ook deelgeneem.
Gereed vir aksie in Hofmeyr se vaarwaters.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’