HOFMEYR NUUS - Altesaam 25 boere van Hofmeyr het op 10 April vanaf Hofmeyr vertrek, met die Gariepdam in die middel van Suid-Afrika, as finale bestemming.
Die groep het reeds om 07:00 in Hofmeyr aangemeld, waarna verskeie voertuie vertrek het na die eerste besoekpunt.
Eerste op die lys was 'n besoek aan die internasionale geakkrediteerde slagpale, Driefontein abattoir en -voerkraal. Die eienaar, Henning Joubert, het alle werksaamhede op sy plaas tussen Bethulie en Jagersfontein oopgestel aan dié groep en die besoekers was hoofsaaklik oorweldig deur die presisie van die werksaamhede by die voerkraal waar 8 000 lammers op enige gegewe dag gevoer word, die plaas beskik ook oor hul eie voerfabriek. Joubert het aan die boere vertel dat die lammers eventueel na die abattoir oorgeplaas word, waar geslagte skaapkarkasse op 'n daaglikse basis in gaas verpak en weggelaai word om na Katar in Jordanië uitgevoer te word.
Daarna het hulle 'n twee uur lange rit op die Karoo Queen-gasteboot op die Gariepdam geneem en boere was dit eens dat dit 'n heerlike ontspanne geleentheid was, waar die boere gesellig saam kon kuier op die luukse boot wat 14 oornaggaste kan huisves.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’