HOFMEYR NUUS - Die gemeenskap van Hofmeyr is warm onder die kraag, en baie, baie droog. Die dorp was vir weke bykans waterloos nadat 'n waterpomp gevandaliseer is.
"Voor dit was hier ook maar net af en toe water," vertel 'n inwoner wat nou van ander afhanklik is om haar te help water aanry vir daaglikse gebruik.
Sommige inwoners sê dat hulle vir weke nie behoorlik kon bad nie. Water vir tuine was daar nie, maar gelukkig reën dit redelik gereeld.
Wanneer daar wel water in die pype was, was dit miskien vanaf 06:00 soggens vir 'n uur - soms bietjie langer, maar meestal heelwat minder.
Gee my krag!
Hierdie is egter nie die enigste uitdaging waarmee die inwoners moet saamleef nie. Vir weke lank het die dorp probleme met kragtoevoer gehad.
Talle huishoudings het groot verliese gely nadat oorlading van kragtoevoerstelsels veroorsaak het dat elektriese toebehore uitbrand.
Boonop het die ligte vir weke aaneen geflikker, wat daartoe gelei het dat gloeilampe ontplof.
Die munisipale elektrisiën moet na Hofmeyr reis wanneer hy opdrag ontvang vanaf die Chris Hani munisipale raad in Komani en dikwels is daar nie dadelik 'n voertuig beskikbaar nie.
Die kragprobleme is egter mettertyd uitgesorteer.
Dit terwyl die hele gemeenskap in afwagting sit en toekyk hoe ‘n splinternuwe transformator, met die nodige kabels, al vir bykans twee maande voor die Hofmeyr se Chris Hani Departement van Waterwese, op die grasperk lê en reeds en wag om geïnstalleer te word.
“Hulle stuur nie vir ons die mense van Komani af om die transformator op te sit nie,” sê Raadslid Buti Quqa. “Die pale lê ook hier, en dit moet geplant word.”
‘n Anonieme inwoner sê dat daar duidelik ook reeds met die rol kabel gepeuter is, aangesien sy gereeld daar verby stap en sien dat die plakkerrol waarmee dit vasgebind was, nou verwyder is.
Quqa het ook ‘n versoek aan die gemeenskap gerig om navraag te doen of daar enige plaaslike persoon beskikbaar sou wees wat kan help met die installasie van die transformator.
Reeds op 24 Mei verlede jaar het Jane Cowley, skadu-minister van gesondheid, ‘n verklaring uitgereik en ‘n versoek in hierdie verband aan die Oos-Kaapse Parlement gerig.
"Die afgelope jare het die gemeenskappe van Twinsville en Hofmeyr-dorp beperkte of geen water gehad weens die onvermoë van die Chris Hani-distriksmunisipaliteit om op sy mandaat om drinkbare water te voorsien, te lewer," het sy gesê. Die versoek het egter op dowe ore geval.
'Wanneer gaan ons weer water hê?'
As jy al die uitdrukking, “aan die kortste ent” gehoor het, kan Hofmeyr vir jou beduie hoe kort 'n "kort ent" is.
“As Suid-Afrikaners is ons geregtig op water en krag, dit tel as basiese menseregte, maar op hierdie stadium word daardie basiese menseregte ons nie gegun nie,” sê ‘n bejaarde inwoner van die dorp.
“Wanneer gaan ons weer water hê?” was ‘n daaglikse vraag op die WhatsApp-groepie waar inwoners kan navrae rig oor die toedrag van sake in die dorp.
Dis ook uiters gevaarlik om snags in die dorp rond te ry, want perde en beeste loop in die strate op soek na drinkwater.
Raadslid
Oor die afgelope jare het inwoners hul uiterste probeer om die lewe in die klein dorpie geriefliker te maak, en ook om die dorpie aantreklik vir toeriste te maak.
“Ons het alles hier,” sê raadslid Buti Quqa, “ons het water, en ons het krag, maar ons het nie mense om die foute te herstel nie.
En soos die jare verbygaan, kom daar maar orals foute. Soms val ‘n boom om op ‘n kragdraad, of die weerlig slaan.
En nou sukkel ons, want as ons die waterpompe aansit, dan trip die krag.”
By navraag sê hy dat Eluxolweni nie ernstig deur watertekorte geaffekteer word nie.
Dit is egter algemeen bekend dat die Twinsville-woonbuurt reeds vir jare nie lopende water in hulle huise het nie - een van die senior inwoners skat dis al vir 22 jaar of langer.
Die toilette en krane is droog.
Inwoners huur maar al die jare die waterkar, waarop hulle hul waterbottels laai om elders vir hul huishoudings gevul te word.
Oor die afgelope twee weke was watervoorsiening in die dorp elke oggend vir ‘n paar uur beskikbaar.
Dit help, maar huishoudings het nog steeds nie reg deur die dag water nie, en op Sondae is daar dikwels ook geen water nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’