HOFMEYR NUUS - Hofmeyr se boere en hul welige baarde en snorre het ’n totaal van R11 450 vir kanker ingesamel deur hulle ondersteuning van vanjaar se Movember-kankerinisiatief.
Die boere laat waai elke einde Oktober hul baarde en snorre, en met seepgladgeskeerde gesigte, en in goeie gees, gaan hulle elke jaar die Movember-uitdaging tegemoet.
Altesaam 36 manne het hierdie jaar die besluit geneem.
Hulle moes hul vooraffoto op ’n groep deel, en regdeur die uitdaging het selfies met verskillende vlakke van baard- en snorgroei verskyn, wat natuurlik prettige aanmerkings ontlont.
Die dag waarop die wenner beppaal word, is altyd ‘n spesiale geleentheid. Tientalle borge het ook vanjaar ingekoop op hierdie hoogtepunt en lekker pryse kon aan al die deelnemers wat “saamgespeel het” oorhandig word.
Johan Vermaak is as algehele wenner aangewys. Vermaak inisieer jaar na jaar hierdie grootse fondinsameling vir kanker. Die geld word aangewend om plaaslike kankerpasiënte te ondersteun.
Ulrich Schoultz het vir sy verbete poging die prys vir "Beste Vordering" verower.
Die hoogtepunt van die inisiatief was die aankondiging van die wenners op Vrydag 19 Desember van die totaal wat bymekaargemaak is.
Dit was ’n gesellige geleentheid waar Vermaak al die deelnemers aangesê het om solank aan die snorre en baarde te begin kweek vir volgende jaar se uitdaging en om met nog planne vir fondsinsameling vorendag te kom.
Johan Vermaak, die algehele wenner, spog met sy welige snor en baard na die Movember-uitdaging in Hofmeyr.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’