Gallery
GRAAFF-REINET NUUS - Hoër Volkskool het Donderdag 21 Oktober hul jaarlikse prysuitdeling vir hul toppresteerders aangebied.
Weens die Covid-19-pandemie was dit die eerste keer in twee jaar wat die skool, soos talle ander, 'n relatiewe normale prysuitdeling kon hou.
Leerders het gedurende die jaar baie hard gewerk om hierdie toptoekennings te behaal.
Fotogalery: Hoër Volkskool hou prysuitdeling vir hul toppresteerders
Die hoofleiers van die skool is ook aangewys en die leerlingraad en huiskomitee van die koshuis is ingehuldig.
Die bobaasswemmer Marlien Crewe-Brown wen die Naude-wisseltrofee vir die veelsydigste sportvrou wat in verskeie sportsoorte bogemiddeld gepresteer het. Sy wen ook die Jo-Ane Nell-beker vir die dogter wat die beste in 'n skoolsport gepresteer het. Sy het aan die nasionale swemgala (Vlak 3) deelgeneem.
Annelie Pieterse het erekleure verwerf vir haar akademiese prestasies in gr. 10 en 11, waar sy die nommer een posisie ingeneem het. Sy wen die Francois Retief-beker en die Dorothea van Zyl-prys vir Afrikaans, die Schoeman-familiebeker en die Absa-prys vir wiskunde, die Septima Peyper-trofee vir lewenswetenskap, die HVS-trofee vir fisiese wetenskap en die st.10-klas van 1950-beker, asook die PSG Korttermynversekeringsprys vir die eerste klasposisie in Gr 11.
Zanki Botha wen die Skoolhoof Prestige-toekenning omdat sy aangewys is as die Suid-Afrikaanse o.18-kampioenruiter in vyfgang. Sy wen ook die Dawid Botha-wisseltrofee vir die beste prestasie deur 'n dogter in 'n sportsoort wat nie deur die skool aangebied word nie. Sy is die Suid-Afrikaanse reserwekampioen in die volgende items: Suid-Afrikaanse o.18-reserwekampioen (vyfgang vir plesierperderuiters), Suid-Afrikaanse o.18-reserwekampioen (siertuigkinderruiter), Suid-Afrikaanse o.18-reserwe ryperdkampioen en die Suid-Afrikaanse o.18-vyfgangruiterkampioen. Zanki is ook lid van die Suid-Afrikaanse senior Proteaspan (vyfgang en driegang).
Hoër Volkskool het sy leerlingraad vir 2022 aangewys. Die hoofleiers is, van links: Robyn Koetaan (onderhoofmeisie), Chloe Stannard (hoofmeisie), Ruan Deysel (hoofseun) en GP Borcherds (onderhoofseun).
Die slimkop Petronè Fourie het gewoeker onder die trofeë en bekers en is met altesaam twaalf beloon. Sy het ook erekleure verwerf vir akademiese prestasie in gr. 12. Sy wen die Dawid van Rooyen-beker en die Rapportryers-prys vir Afrikaans, die MC Cronje-beker vir Engels, die Edwards- beker vir tweetaligheid, die Gerber Botha- en Gowar-prys, asook die Pietersen-wisseltrofee vir rekeningkunde, die Hennie en Amanda van Rooyen-trofee vir toerisme, die Theron-familie-trofee asook die PSG Korttermynversekeringsprys vir die eerste klasposisie in gr. 12. Verder wen Petronè die Saricke Dercksen-gedenkprys vir die beste leerder in Afrikaans in gr. 12. Sy palm ook dié prestige toekenning van die jaar, die Willie Odendaal-wisseltrofee, in wat gaan aan die veelsydigste leerling in gr. 12, wat in gr. 11 en/of gr. 12 bogemiddeld in kultuur, sport en akademie gepresteer het.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'