GRAAFF-REINET NUUS - Hoër Volkskool verwelkom vanjaar graag twee nuwe onderwyseresse, Clarissa Faber en Lize-Marie Kotzè by die skool.
Clarissa Faber het grootgeword in Oos-Londen en haar studies aan die Noordwes Universiteit in Potchefstroom voltooi in B.Sc Verbruikerswetenskap met ondernemingsbestuur, asook haar B.Sc honneurs in verbruikerswetenskap (spesialiseer in voedselprodukontwikkeling).
Vanjaar is haar eerste onderwyspos en sy gaan skeppende kuns (gr. 8 en 9), toerisme (gr. 10) en Verbruikerstudies (gr. 10 tot 12) aanbied.
Sy ervaar Graaff-Reinet se inwoners as "sout van die aarde".
"Ek het vinnig besef dat dit warm kan raak en dat daar baie geskiedenis in die dorpie lê. Die berge laat 'n mens net weereens God se kunswerke en die ou boustyle laat 'n vreemdeling sommer tuis voel."
Sy wil verbruikerstudie interaktief maak sodat die gemeenskap die leerders se talente kan 'proe'.
Sy moedig leerders aan om hulle passie te volg en te volhard met elke projek of toets.
Deur haar doelgerigte gesindheid wil sy selfdissipline en toekomsgerigte denke kweek wat vir leerders 'n voorsprong sal gee in die grootmenswêreld.
Lize-Marie Kotzè is van Wellington en het haar graad in taalkunde verwerf aan die Universiteit Stellenbosch en haar nagraadse onderwyskwalifikasie deur Unisa. Sy het voorheen by Hoërskool Ladybrand in die Vrystaat skoolgegee.
Sy gaan Afrikaans huistaal (gr. 12) en Engels eerste addisionele taal (gr. 8) aanbied.
Vir haar is Graaff-Reinet die heel mooiste dorp wat sy ooit gesien het.
"Die Karoo is klaar besig om diep in my hart in te kruip."
Sy hoop om die leerders se kreatiwiteit en individualisme aan te wakker om hulle die beste weergawes van hulself te maak.
Hoër Volkskool wens beide onderwyseresse sterkte toe en glo hulle sal baie gelukkig wees in die gemeenskap.
Lize-Marie Kotzè
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'