CRADOCK NUUS - Die nuus het Vrydag 11 Oktober soos 'n veldbrand in Cradock versprei: "Twintig bloedrooi Ferrari's het by die Vic Manor in Markstraat gestop!"
Petrolkoppe gewapen met kameras en selfone het van oral in die dorp gestroom om dié rooi skouspel te ervaar.
Dit was nadat die personeel by die diensstasie net buite die dorp die eerstes was om die vuurwaens te waardeer.
Terwyl die bestuurders en passasiers 'n happie by die Vic geniet het, het mense om die motors geswymel. Niemand wou loop voor die spogwaens nie weggetrek het nie, want dis immers met die wegtrek wat die enjins praat.
Die groep reis elke jaar van George na Gqeberha ten bate van verskeie welsynsinstansies en het Saterdag hul enjins op die Aldo Scribante-resiesbaan in die stad laat brul, waar toeskouers vir 'n pretrit in 'n Ferrari kon gaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’