GRAAFF-REINET NUUS - Die padwaardigheidsinspeksie van alle gekontrakteerde voertuie wat leerders in die Oos-Kaap vervoer, het op 6 Januarie begin.
Alhoewel skole se leerders in Graaff-Reinet, Nieu-Bethesda, Steytlerville, Aberdeen, Hofmeyr en Middelburg wel vervoer word deur die departemente van vervoer en onderwys, is daar nog dorpe waar boere sorg dat leerders wat op hul plase woon by die skool kom.
Verskeie boere van Murraysburg neem leerders aan die begin van die termyn na die skool op die dorp waar hulle dan by familie loseer en gaan haal hulle dan elke twee weke vir 'n kuier by hul ouers op die plaas.
Slegs leerders met 'n geboortesertifikaat mag per taxi vervoer word en die departemente aanvaar geen verantwoor-delikheid vir leerders sonder sertifikate nie.
In kleiner dorpe is daar dikwels talle kinders wat nie sertifikate het nie.
Baie landelike leerders mis dikwels skool as gevolg van gebrekkige vervoer en stappe is geneem om dit te verhoed.
Die departement van opvoeding moet vir die volgende sewe maande elke maand 'n verslag by die hof indien waarin die status uiteengesit word van alle leerders in die provinsie wat aansoek gedoen het vir leerdervervoer.
Die hof moet voorsien word van alle stappe wat geneem is om te verseker dat kwalifiserende leerders van die eerste dag van 2025 se akademiese jaar vervoer word.
Unathi Binqose, die woordvoerder vir padveiligheid, sê padwaardigheidstoetse word sedert 6 Januarie stadig maar seker op skoolvoertuie gedoen en talle taxis druip die toets.
Binqose doen 'n beroep op alle vervoeroperateurs om seker te maak hulle voertuie is padwaardig en dat diegene agter die stuur bekwame, versigtige bestuurders is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’