KAROO NUUS - Nasionale Verpleërsdag word môre, Vrydag 12 Mei, gevier, en talle geroepe verpleërs verdien om môre bederf en bedank te word.
Hul pasiënte is en bly hul eerste prioriteit en hulle volg die Florence Nightingale-eed getrou.
Maar soms is die oormag net té groot.
In Suid-Afrika bestaan 56% van alle gesondheidsdienste uit verpleërs. In die diep- en verafgeleë platteland is verpleërs die enigste opgeleide gesondheidswerkers wat daar is. Maar, het ons verpleërs die nodige toerusting en ondersteuning om hierdie diens na die beste van hul vermoeë te lewer?
In Suid-Afrika is daar 'n tekort aan 62 000 verpleërs. Teen 2030 sal daar 'n verwagte tekort van 340 000 wees. Die tekort het reeds 'n groot agteruitgang in dienslewering veroorsaak en voorspel 'n massiewe impak op gesondheid.
Op voetsoolvlak is daar reeds ernstige probleme. Tydens onderhoude met verskeie verpleërs- en gesondheidswerkers in die Advertiser se verspreidingsgebied, is dit duidelik dat daar selfs groter probleem-areas is, as waarvan die Wêreldgesondheids-organisasie kennis dra.
Verpleërs in staatshospitale en klinieke ervaar 'n ernstige tekort aan medikasie. In talle klein dorpies het die mobiele kliniekdienste al jare gelede in duie gestort. Die klinieke het of onklaar geraak en is nooit herstel nie, want daar was nie finansiering vir herstelwerk nie, of mobiele kliniekbussies was in ongelukke, en is nooit vervang nie.
Sekerlik moes so 'n kliniekbus met al die duur toerusting verseker wees? 'n Paar klinieke se voertuiglisensies word nie betyds betaal nie. Daar is ook gereeld probleme met hulpwerkers se salarisse.
Een plattelandse kliniek rapporteer dat hul op die oomblik met 'n tekort van agt hulpwerkers sit, terwyl hul wagkamers oorvol sit.
Ambulansdienste is ook dikwels 'n probleem.
Die Advertiser het met twaalf klinieke gesels, en by net een het die personeel 'n plan gehad om nasionale verpleegstersdag te vier. Die res is eenvoudig te besig, en het geen tyd, of geld, om die dag te vier nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’