STEYNSBURG NUUS - So kort voor winter, wanneer somersvrugte begin minder word, verander die vrugte aan die droogtebestande granaat- en kweperbome in ontploffings van kleur.
Diegene vir wie hierdie vrugte ’n smaaklike genot is, kan nie wag vir die dag wanneer die bloedrooi granate oopbars om stroopsoet rooi pitte ten toon te stel nie, terwyl die kwepers wat rustig van grasgroen na geel verkleur, die belofte inhou van ingelegde kwepers, kweperjellies, konfyt, lekkers of bykos wat die tone laat krul.
Toe die Marais Steyn-tehuis in Steynsburg dus die afgelope week ’n donasie van kwepers van ’n inwoner ontvang, het niks verlore gegaan nie.
’n Hele span het aangebied om die kwepers te was, te skil, te snipper, te rasper of in skyfies te sny voordat op verskeie maniere verwerk word om dwarsdeur die winter die inwoners mee te bederf.
Reeds op 1 April het inwoners aan ’n heerlike kweperkrummelgereg met vla gesmul.
Ander gebruike van granaatpitte sluit in bevriesing om regdeur die jaar as ’n versiering van nageregte gebruik te word; om stolling aan te help wanneer kweperjellie gekook word; granaatsap; en roomys wat van die sap gemaak word.
Granaatgegeurde jenewer vind ook oral byval.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’