GRAAFF-REINET NUUS - Voorsitter van die One's Fate Foundation, Mbulelo Tini en Raadslid Nathan Jacobs is steeds vasbeslote om die lot van die gesin wie se huis in Asherville, Graaff-Reinet, op Donderdag 5 Desember afgebrand het, te verbeter.
Verlede jaar het die stigting daarin geslaag om kos en klere in te samel wat Jacobs aan die gesin oorhandig het.
Hierdie jaar het die Bitterhout-familie van uMasizakhe tweedehandse meubels, wat nog in uitstekende toestand is, geskenk.
Jacobs het weer 'n helpende hand uitgestrek en vervoer vir die meubels van uMasizakhe na Geluksdal gereël.
Nadat Mbulelo en Nokuzola Bitterhout die toestand van die gesin se huis gesien het, het hulle ook belowe om tien sakke sement te skenk om die huis te herstel.
Hierdie belofte het hulle op Dinsdag 13 Januarie nagekom toe Mbulelo die sement aan One's Fate oorhandig het.
"Woorde kan nie beskryf hoe dankbaar ons is nie," sê Tini. "Ons is ook dankbaar vir ons raadslid wat altyd gewillig om te help.
"Hy het nie eens 'n sent vir die vervoer van die meubels gevra nie."
Jacobs sê hy werk graag saam met die One's Fate Foundation, veral wanneer daar rampe in sy wyk plaasvind. "Sedert die brand het Tini my baie bygestaan en gehelp om donasies vir die gesin in te samel," sê Jacobs.
"Hy help my baie en ek waardeer hom regtig."
Jacobs het ook sy waardering teenoor die Bitterhout-familie uitgespreek.
"Die gesin van die huis wat afgebrand het is baie naby aan my - hulle is familie - en daarom is ek baie dankbaar," sê hy.
"Die brand het regtig op 'n baie slegte tyd plaasgevind. Dit was in Desembermaand wanneer almal maar hul eie persoonlike goedjies het wat hulle wil uitsorteer met hulle geld. Juis daarom beteken die skenkings so baie."
Die gesin benodig steeds boumateriaal om hul huis heeltemal te herstel.
"Die min wat ons doen kan die gemeenskap genees en daarom vra ons deurlopend mense om 'n hand uit te steek," sê Tini.
Mense wat kan help kan Jacobs kontak by 076 385 2656 of vir Tini by 083 861 4308.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’