KAROO NUUS - Solidariteit Helpende Hand streekorganiseerder Marlene Basson en hul maatskaplike werker Lize van Zyl het met trots 'n Help Jag-stalletjie beman tydens die Opening of the Hunting Season feestelikhede by Angora Lodge in Jansenville.
Die HelpJag-projek is deel van die Kosblikkie-projek, wat kleuters en hul gesinne in nood ondersteun deur middel van voedselhulp.
“Ons wil magies volmaak, dis waaroor dit gaan,” sê Basson. “Dit is hartverskeurend hoeveel kleuters afhanklik is van ete by die skool as hul primêre ete vir die dag; dis harde werklikheid dat klein liggaampies nie normaal ontwikkel sonder gebalanseerde dieet nie. Dis moeilik om te konsentreer wanneer jy honger is; dis onmoontlik om te presteer terwyl jou magie grom.”
Help Jag versprei wildsvleis na 89 skole regoor die land en voed daarmee ongeveer 8 000 kleuters. As jag in jou are loop is dit onlosmaaklik deel van jou, dis nie iets wat jy kan kies nie; dit het JOU gekies. En wanneer die jagveld roep is dit al wat jy hoor; al wat jy dink, droom, slaap en eet - dis hunkering.
“Die Help Jag-projek het 'n spesiale plek in ons harte, en ons is dankbaar vir die ondersteuning van verskeie ambassadeurs wat hierdie projek moontlik maak,” deel Basson mee.
Die aand was 'n geleentheid vir jagters om saam te kom en die jagseisoen in Jansenville af te skop. Hulle het deelgeneem aan 'n jagkompetisie wat op sterk mededinging in die veld gewys het.
Die hoogtepunt van die aand was die afsluiting met 'n konsert deur die gewilde sanger, Steve Hofmeyr. Sy treffers het die gehoor laat saamsing en dans, en dit was 'n onvergeetlike ervaring vir almal wat teenwoordig was.
Ons bedank al die jagters, ondersteuners, en gemeenskapslede wat die Help Jag stalletjie ondersteun het. Saam maak ons 'n verskil in die lewens van diegene wat dit nodig het. Helpende Hand bly toegewyd aan ons missie om 'n positiewe impak te maak en 'n hand uit te reik aan die gemeenskap.
Kontakpersoon vir Helpende Hand navrae is Marlene Basson. Kontak haar by 083 501 3166 of stuur vir haar ‘n e-pos by marlene@helpendehand.co.za
Kontak Angora Lodge vir meer inligting oor die feesvieringe van die Opening of the Hunting Season.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’