ALIWAL-NOORD NUUS – Helpende Hand (HH) se streeksorganiseerder, Marlene Basson, en streeks- maatskaplike werker, Liezl van Wyk, het onlangs ’n inspirerende besoek aan die Oos-Kaap onderneem.
Hul roete het die dorpe Steynsburg, Venterstad, Burgersdorp, Aliwal-Noord, Lady Grey, Barkly-Oos, Elliot, Queenstown, Adelaide, Bedford en Cradock ingesluit.
Tydens die toer is verskeie netwerkvergaderings gehou en besoeke afgelê by predikante, ouetehuise, skole en maatskaplike organisasies.
Hierdie interaksies het waardevolle gesprekke oor gemeenskapsbehoeftes en uitdagings moontlik gemaak, terwyl dit ook nuwe bande tussen HH en plaaslike instansies versterk het.
Volgens Basson was die besoek nie net ’n geleentheid om HH-projekte bekend te stel nie, maar ook om stories van hoop, deursettingsvermoë en gemeenskapsgees aan te hoor.
“Helpende Hand glo dat volhoubare verandering by betrokkenheid begin,” sê sy.
“Ons doen ’n beroep op elke gemeenskapslid om aan te sluit by hul plaaslike HH-tak of selfs ’n nuwe een te begin.”
Die toer is afgesluit tydens die Cradock Landbouskou, waar HH met ’n bemarkingstalletjie teenwoordig was.
Lede van die publiek kon daar meer leer oor die Ons Winkel-inisiatief - ’n landswye projek met meer as 120 skenkingswinkels wat nie net fondse vir maatskaplike ontwikkeling insamel nie, maar ook werksgeleenthede en studiefondse skep.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’