OOS-KAAP NUUS - Tydens die Solidariteit Helpende Hand Oos-Kaapse streeksvergadering is die opleiding en welstand van vrywilligers beklemtoon.
Die vergadering is Saterdag 13 September aangebied, toe vrywilligers van regoor die streek bymekaargekom het om saam te leer en te beplan, en mekaar te versterk.
Die streekorganiseerder, Marlene Basson, en administratiewe beampte, Adele Wright, het die opleiding oor die stelsels en prosesse binne Solidariteit Helpende Hand aangebied.
Hierdie gestruktureerde raamwerk bied vrywilligers ’n veilige en georganiseerde manier om diensbaar in hul gemeenskappe te wees.
Verder het Lize van Zyl, ’n maatskaplike werker, waardevolle opleiding gegee oor die benutting van netwerke en die beplanning van projekte - kernvaardighede wat gemeenskapswerk duursaam en effektief maak.
As spesiale gas het Suzette Oosthuizen, lid van die uitvoerende komitee, ’n inspirerende boodskap oor welstand vanaf die Helpende Hand Familiehuis in Pretoria gebring.
Sy het die vrywilligers aangemoedig om hul roeping ernstig op te neem en hul passie binne Helpende Hand uit te leef, sonder om te veel waarde te heg aan negatiewe opinies van ander.
“Ons moet fokus op wat God vir ons sê, want elkeen is geroep vir ’n tyd soos nou.”
Welstand, op verskeie vlakke, staan sentraal in Solidariteit Helpende Hand se jaarfokus.
Hierdie benadering sluit nie net gemeenskappe se welstand in nie, maar ook dié van vrywilligers, sodat hulle met nuwe krag en balans kan voortgaan om ander te dien.
Die dag is afgesluit met saam leer, saam kuier en saam groei - ’n bewys dat Solidariteit Helpende Hand se vrywilligersnetwerk in die Oos-Kaap sterk en lewenskragtig bly.
Indien jy ook deel van die vrywilligernetwerk van Helpende Hand wil raak, skakel Marlene Basson van Solidariteit Helpende Hand Oos-Kaap by 083 501 3166 of marlene@helpendehand.co.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’