CRADOCK NUUS - Handré Erasmus is op 23 November in Cradock gebore, maar moes baie vinnig na Queenstown geneem word toe sy suurstof saturasievlakke drasties begin daal.
Daar is vasgestel dat daar twee gaatjies in sy hart is en hy is in die neonatale intensiewe sorgeenheid opgeneem.
Medici het egter baie gou vasgestel dat sy infeksietelling ook styg en dat daar inwendige bloeding is. Dit kon egter onder beheer gebring word deur 'n bloedplaatjie-oortapping.
Handré se ouers, Anton en Natasha Erasmus, het kort daarna verneem dat hy na Life St George's-hospitaal in Gqeberha oorgeplaas moes word en hy is per ambulans daarheen geneem.
Die Cradock-gemeenskap het onmiddellik hande gevat toe hul verneem dat Handré nie onder 'n mediese fonds val nie. Besighede het op groot skaal betrokke geraak en lootjies is verkoop en spesiale aanbiedings, waarvan 'n persentasie na die Handré-fonds gaan, is adverteer. Selfs die kleingoed kon bydra deur 'n kaartjie te koop om op 'n springkasteel 'n springbeurt te kry.
Alle gemeenskappe en kerkgroepe het spesiale gebedsgeleenthede gereël om vir klein Handré te bid. Vir enige verdere inligting oor Handré kan Natasha by 061 548 7738 gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'