CRADOCK NUUS - Boere langs die Groot Visrivier en sy sytakke was Dinsdagaand, 10 Februarie, op hoë gereedheidsgrondslag nadat berigte ontvang is dat sowat 70 mm reën oor ’n wye gebied tussen Graaff-Reinet en Cradock uitgesak het.
Die swaar neerslae het in die Agter-Sneeuberge, noord van Nieu-Bethesda, geval en ’n groot massa water was in die rigting van Nxuba (Cradock) op pad.
’n Wolkbreuk by Klein Elandskraal het groot skade aangerig toe vloedwater teen hoë spoed lande oorstroom en bogrond en plantegroei meegesleur het.
Boere is aangeraai om vee dringend na hoër grond te skuif, veral tussen die samevloeiing van die Brak- en Visrivier en by die Elandsdriftdam.
Teen sonop op Woensdag 11 Februarie het die vloedwater onder die Long Acre-brug by Baroda, sowat 20 km van Cradock, deurgespoel.
Verdere waarskuwings is uitgereik aan produsente stroomaf. Volgens berigte is krale, Eskom-kraglyne en heinings by Aloedale noordwes van Nxuba beskadig.
Teen Woensdagoggend is nóg swaar reën in die Sneeuberge aangemeld, met sterk afloop onder die R61-brug tussen Cradock en Graaff-Reinet. Voorsorg is ook by die Cradock-skouterrein, wat langs die rivier geleë is, getref.
Teen Donderdag was die enigste sigbare bewys van die massa water by die Frans Loots-brug by Cradock die groot hoeveelhede plantmateriaal wat teen die walle en brûe vasgespoel het.
Hoewel die rivier met ’n gedruis verbygestroom het, is geen groot skade in die dorp aangemeld nie.
Inwoners onthou steeds die verwoestende 1974-vloed, maar dié week se afvloei het gelukkig nie daardie vlak bereik nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’