KAROO NUUS - Korrupsie, wanadministrasie en onwettige uitgawes in die departement van gesondheid het al lewens gekos en 'n beperkte ondersoek loop die risiko om sleutelakteurs te beskerm.
So sê Jane Cowley, LP en DA se skadu-LUR vir gesondheid. Cowley het op 8 Oktober die stand van sake in oënskou geneem en sê dat President Cyril Ramaphosa onlangs die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) gemagtig het om korrupte aktiwiteite binne die Oos-Kaapse departement van gesondheid (ECDoH) te ondersoek.
Die Livingstone Hospitaal in Gqeberha is die verwysingshospitaal vir die Midlands Hospitaal in Graaff-Reinet en ook vir die Provinsiale Hospitaal in Cradock.
Daar heers reeds sedert 2023 kommer oor mediese voorraad by dié hospitaal, hoewel die departement van gesondheid in 'n verklaring op 12 Julie gesê het dat voldoende voorraad beskikbaar was om alle dienste te lewer.
Mediese eise van verdagte oorsprong word daagliks blootgelê en hierdie eise het sedert 2022 'n reuse finansiële impak op die deprtement.
Dit is eersdaags Kersseisoen met 'n drastiese toename in verkeer op alle roetes deur die Oos-Kaap. Verlede Desember en Januarie was daar 'n groot tekort aan ambulanse om die N9, asook die N10 en R61 roetes deur Graaff-Reinet, Middelburg en Cradock, te bedien.
Cowley sê die SOE se ondersoek is noodsaaklik om bewerings van wanadministrasie, onwettige uitgawes en wangedrag binne die departement aan te spreek. Daar heers egter kommer dat die omvang van die ondersoek te nou en beperk sal wees, wat moontlik beduidende areas van korrupsie onaangespreek sal laat.
Hierdie proklamasie sal slegs tenders en kontrakte sedert Augustus 2022 dek en hoewel dit vorige aangeleenthede, wat met hierdie ondersoeke verband hou insluit, kan die uitsluiting van vroeër jare en langdurige finansiële wanbestuur vele wandade miskyk.
Die ECDoH is vir jare vermink deur ernstige finansiële wanbestuur, grootliks gedryf deur die las van mediese regseise wat voortspruit uit nalatigheid, veral in gevalle van serebraal gestremdheid. Dié kwessies, wat in die laaste boekjaar alleen tot R7,3 miljard se onbetaalde krediteure gelei het, het lank voor 2022 begin.
Cowley sê 'n wyer, doeltreffender ondersoek is nodig. "Die departement se mislukkings is diep gewortel, met sistemiese korrupsie, swak verkrygingspraktyke en 'n algehele gebrek aan finansiële beheermaatreëls wat etlike jare terugdateer. Deur die SOE se ondersoek tot 'n nouer tydsduur te beperk, kan kritieke bewyse misgekyk word."
Cowley versoek dat die ECDoH onder administrasie geplaas word, soos uiteengesit in Artikel 100 van die grondwet.
"Deur die departement onder administrasie te plaas, sal omvattende toesig- en aanspreeklikheidsmaatreëls ingestel word, wat sal verseker dat finansiële wanbestuur aangespreek word en lewens gered word.
"Roei alle vorme van korrupsie, verlede en hede uit en verseker so dat die mense van die Oos-Kaap die gesondheidsorgdienste ontvang wat hulle verdien," sê Cowley.
Plafonne en mure wat ongetwyfeld beter dae geken het, is waarna pasiënte moet lê en kyk.
Jare se verwaarlosing het die kliniek in 'n bouval verander.
'n Ondersoeklokaal waar daar net 'n skadunet tussen buite en binne hang.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’