OUDTSHOORN NUUS - Jan Nel, bekende boer van die plaas Uitkyk in die Aberdeen-distrik, is op Dinsdag 13 Junie skielik oorlede.
Sy dood laat ‘n groot leemte in veral die Angora-boerderygeledere, asook die plaaslike gemeenskap van Aberdeen-omgewing.
“Niks kon enigeen van ons voorberei op die ondenkbare skok en pyn wat Dinsdag gebring het nie: slegs vier maande en twee weke na ons geliefde broer en seun se dood, het ons man en pa sy aardse woning vir ‘n hemelse een verruil,” aldus Lizelle Coetzer, Nel se jongste dogter.
Nel se toewyding en handewerk oor die afgelope 34 jaar op die plaas Uitkyk bly 'n stille, maar lewende getuienis van sy lewensroeping: boer in murg en been, eggenoot en pa. As kenner van Karoo-plantegroei met ‘n ontsag en respek vir die Karooveld, het Nel as boer daarop gefokus om sy plaas optimaal te ontwikkel, eerder as om net grond by te koop.
Kwalitatiewe, in stede van kwantitatiewe, boerdery en veldbewaring was vir hom prioriteit. In 2020 het Nel ‘n revolusionêre diptenk ontwerp en gebou wat met die spesifieke uitleg en swaaihekke nie net die nodige hande-arbeid tot slegs drie hanteerders beperk nie, maar ook die stresvlakke van die bokke tydens die dipsessies drasties verminder.
Lizelle vertel: “Pappa het met elke skeersel van die sybokkies toppryse behaal. Hy was vier keer onder die toptien vir die Daidoh-bokhaarkompetisie en met dié prestasie eenkeer selfs uitgenooi na China.” Die gesin onthou ook die Landbouweekblad-artikel oor Nel se keerwalle op Uitkyk, lank voordat regeneratiewe boerdery algemeen bekendgeraak het.
Sané, Nel se oudste dogter, onthou haar pa met sy omgeehart vir die wat swaarkry, maar bowenal sy liefde vir sy vrou, kinders en skoonseuns. Christelle, oorlewende eggenote, se groetwoorde: “Ai, my Lang Jan ...” artikuleer die verlorenheid van ‘n lewenslange lewensmaat.
‘n Gedenkdiens is vir Nel op Sondag 18 Junie, Vadersdag, om 12:00 gehou vanuit die NG Kerk Aberdeen onder leiding van ds. Clifford James. Sané het ‘n huldeblyk gelewer en beide dogters het ‘n skyfievertoning saamgestel om al die mooi herinneringe te koester. Die gesin bedank kennisse, vriende en familie vir boodskappe en ondersteuning: “In hierdie tyd kan ons net op die Here wag en vertrou vir genesing. Ons voel hoe vriende, familie en die gemeenskap se gebede ons dra.”
Nel laat sy vrou, Christelle, dogters Sané van Dyk en Lizelle Coetzer, en skoonseuns Jandré van Dyk en Willem Coetzer na.
Die Nel-gesin, van links is Luan, Christelle, Sané, Jan en Lizelle.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’