GRAAFF-REINET NUUS - 'n Grootse poging om Graaff-Reinet se bome in pienk te tooi word weer binnekort van stapel gestuur.
Die jaarlikse Pienk Bome vir Pauline-inisiatief, 'n bewusmakingsveldtog wat ten doel het om fondse vir die stryd teen alle tipes kanker in te samel, is in 2012 deur Carol-Ann van Jaarsveld van stapel gestuur nadat sy haar ma en haar ouma, albei Pauline, aan kanker verloor het.
Van Jaarsveld se projek het nie net posgevat nie; dit het haar monumentale verlies omskep in 'n epiese verhaal van hoop, bemoediging en behoort.
Die nalatenskap van hierdie twee vroue het begin blom in Van Jaarsveld se tuisdorp, Graaff-Reinet.
In Oktober 2012 is vierduisend bome langs die dorpstrate in pienk materiaal toegedraai as fondsinsameling om plaaslike kankerpasiënte te help, kankerbewustheid te verhoog en hoop en inspirasie te bied vir die Paulines in ons lewens.
In November daardie selfde jaar het Adri Jansen van Nieuwenhuizen, 'n borskanker-oorlewende, en dr. Pam Kerr, 'n opvoedkundige sikoloog, aangesluit om amptelik die niewinsgewende organisasie "Pink Trees for Pauline" te stig.
Van Jaarsveld se oorspronklike visie het die dryfkrag geword vir baie mense wat Suid-Afrika en Namibië pienk maak om nuwe lewe tydens en na kanker aan te dui.
Meer oor die projek
Die doel van die projek was om op 'n unieke, geïnspireerde manier bewustheid te skep, gemeenskappe saam te snoer en geld in te samel vir diegene wat deur kanker geaffekteer word - deur dorpe se boomstamme in pienk materiaal toe te draai.
Helder pienk is 'n kleur van hoop en 'n uitdrukking van die nuwe lewe wat deur hierdie projek moontlik word.
Pienk Bome vir Pauline is die eerste kankerfondsinsamelings- en bewustheidsinisiatief waar fondse toegeken word aan die plaaslike kankerpasiënte van 'n dorp.
Die projek is ontwikkel om volhoubaar te wees sodat so veel gemeenskappe as moontlik die vrugte daarvan kan pluk.
In elke dorp is daar 'n komitee wat toesien dat fondse wat in daardie dorp ingesamel word, aan die kankergemeenskap binne dieselfde dorp toegeken word.
Pink Trees for Pauline is die enigste geregistreerde kankerorganisasie in Suid-Afrika wat suiwer fokus op fondsinsameling met lidmaatskap wat deur die Kankeralliansie toegestaan word.
Ondersteun gerus hierdie jaar dié inisiatief deur jou pienk materiaal by Maria’s Coffee in Graaff-Reinet te gaan aankoop.
Die wins uit hierdie projek sal direk aan die Graaff-Reinet Kankervereniging oorbetaal word, en daar sal verseker word dat plaaslike inwoners wat sorg en bystand benodig, eerste gehelp word.
Die beginsel is eenvoudig: hoe meer pienk materiaal verkoop word, hoe groter is die impak. Graaff-Reinet sal saam die boodskap uitstuur dat geeneen wat die kankerpad stap, dit sonder ondersteuning doen nie.
Kom, koop jou pienk materiaal, en maak Graaff-Reinet pragtig in pienk!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’