GRAAFF-REINET NUUS - Hoe trots is Graaff-Reinet-inwoners wanneer hul dorp en distrik die middelpunt is van 'n TV-program wat die dorp aan die wêreld bekend stel!
Graaff-Reinet, met sy pragtige geskiedkundige geboue, saam met sy uitgebreide distrik, was die fokus tydens Sondagaand se uitsending van Lamb Champs, 'n reeks oor die hart en siel van skaapboerdery.
Dit word op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en het die wêreld laat kennis neem van die Karoo en spesifiek Graaff-Reinet, die hart van die skaapwêreld.
"Die dorre landskap, met sy geharde inheemse plante, verleen 'n unieke geur en uitsonderlike kwaliteit aan die vleis, wat sy band met die streek se natuurlike toestande beklemtoon," sê Minki van der Westhuizen, die program-aanbieder.
"Karoo Lamb Champs vier die unieke eienskappe van karoolam en die boere daaragter."
Karoolam is deur die Karoo Meat of Origin-skema as 'n 'GI'-produk gesertifiseer, wat aandui dat die unieke kwaliteit en oorsprong daarvan beskerm word en verbruikers verseker dat dit egte Karoolam is.
Die inisiatief beklemtoon die smaak van hierdie lam, en bevorder ook die streek se landbou-erfenis, dryf verbruikersvraag, en ondersteun boere deur Karoolam as 'n gesogte produk in plaaslike en internasionale markte te posisioneer.
Francois Rossouw, hoof- uitvoerende beampte van Saai wat die program geskep het, sê:
"Elke skaaptjoppie het 'n storie. 'n Verhaal van gesinne wat douvoordag begin werk, van generasies se sorg en toewyding, van trots op 'n produk wat met eerlikheid en harde werk grootgemaak is.
Dit is die storie van familieboere, en dit is hoekom Saai Lamb Champs geskep het." Dié TV-reeks volg ses skaapboere van regoor Suid-Afrika wat met trots en passie boer.
Kykers word saamgeneem veld toe, ook na die skuur, die mark en uiteindelik na die kole waar die finale produk geëet word.
Graaff-Reinet is die middelpunt van die uitgebreide area waar skaapvleis, tesame met die byprodukte soos wol en wolpantoffels, asook bokhaar, bokhaarmatte en bokhaartruie geproduseer word, en plaaslike produsente het trots hul produkte vir die kamera vertoon.
"Boere moet trots wees op hul produk, en dit aktief bemark as top kwaliteit," was boere dit eens wat aan die program deelgeneem het.
As jy Sondagaand se uitsending misgeloop het, stel jou wekker om die herhaling op KykNET om 03:58 hierdie Woensdag (9 April) te kyk, of op te neem vir later.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’