STREEKNUUS - Oreste Boffa, van Goedehoop in die Hofmeyrdistrik, het eers geskrik en gedink hy sien vlamme in die veld.
Hy het immers pas teruggekeer van die Hofmeyr Oukartrip, en was vir twee dae nie tuis nie.
Soos wat hy naderbeweeg aan die "vlamme", sien hy hulle rook nie, maar hulle blink, goud en rooi, en fladder in die wind, waar dit aan die kriebos vasklou.
Hy stop toe sy voertuig, en hy en sy skoonseun Llewellyn Collet, wat al die pad van Engeland af gekom het om ook saam met hom die oukartrip mee te maak, sit toe ook eers en wonder wat dit kan wees.
Einde ten laaste klim hulle toe maar uit en stap die entjie - en vind die "vlamme" is al die tyd pragtige, gloeiende, skitterende ballonne - die syfers "80" in goud en rooi en daarby 'n ballon wat soos 'n bottel brandewyn lyk.
Dadelik neem hulle toe 'n foto en sit dit op sosiale media.
Natuurlik kry mens mos vinnig 'n reaksie op sosiale media, en dit was nie lank nie of hulle weet dat hulle vonds eintlik die verjaardagballonne was van Neil Dold-Chapman, wat op Saterdag 3 Mei sy 80ste verjaardag op die plaas The Meadows, langs die N10 buite Cradock, gevier het.
Neil se kleindogter het die belangrike opdrag gehad om die drie ballonne van hul motor na die verjaardaglokaal te dra, maar o wee, toe gryp die wind die ballonne.
Haar hart was baie seer, maar sy het darem ook mettertyd bedaar en die feestelikhede geniet.
Die verjaarsdagballonne het sowaar 'n hele 60 km ver, soos die kraai, of dan nou die ballon, sou vlieg, voor hulle tot lande gekom het.
Die 80 het al stadig hul fut begin verloor, want so hier en daar het 'n doring ook al 'n stekie ingekry.
Boffa se eggenoot, Denise, merk toe op dat die brandewynballon geen skade opgedoen het nie, en sy heg 'n briefie daaraan vas en stuur dit weer die lug in.
"Hoewel dit aanvanklik gelyk het of dit in die regte rigting beweeg, het dit die volgende dag in die Aliwal-Noorddistrik geland, en die jongman wat dit opgetel het, het ons laat weet," vertel Boffa.
Natuurbewaarders en boere is versigtig om ballonne die lug in te stuur, want indien 'n bees 'n ballon sou probeer vreet, sou dit dodelik wees, maar in hierdie geval was dit uit en uit 'n menslike glips, en kleine Sadie Weitz van Cradock se hart was bitterlik seer omdat Oupa se mooie verjaardagballonne uit haar hande gewaai het.
Ongeag die vermiste ballonne het Neil 'n heerlike, gesellige en geseënde verjaardag gevier.
Daar was 'n oggendpiekniek langs die Visrivier met 16 gaste, en 'n laatmiddagbraai wat afgerond is met 'n pragtig gedekte tafel in die ruim eetkamer van The Meadows.
Neil se vrou, Santie, en al hul kinders, Johann en Gail Weitsz van Heemstede, Cradock, asook Leiza en Ian Murray van Beaufort-Wes en Rodney en Gillian Dold-Chapman van Gqeberha, saam met al hul kinders, het die dag saam met hom gevier.
Maar toe die ballonne oor berge en dale na Hofmeyr vlieg en vandaar na Aliwal-Noord, het die hele omgewing ook mettertyd saam feesgevier.
Dié 80ste het beslis nie ongesiens verbygegaan nie!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’