KAROO NUUS - Die aanbreek van lente, met bome wat oortrek is met kleurvolle bloeisels, matiger dae, en grasperke wat stadigaan weer groen raak, is vir vele Karoobewoners 'n hoogtepunt van die jaar.
September is ook bekend as toerismemaand en soos die Oos-Kaap die maand binnegaan, moet onbenutte plattelandse potensiaal met erns opgeneem word.
Leander Kruger, LP en skaduminister vir ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme, het op 1 September gesê die Oos-Kaap is 'n omgewing wat geseën is met asemrowende landskappe, ryk kulturele erfenis en oorvloedige geleenthede vir avontuur. "Hierdie provinsie het al die bestanddele om 'n toonaangewende toeristebestemming te word," het hy gesê.
In Cradock is talle sypaadjies opgekikker met tuine. Muurskilderye deur 'n plaaslike kunstenaar skep die agtergrond vir vele foto's deur toeriste, en veral oorsese toeriste geniet die atmosfeer wat hierdie kunswerke bied. Hofmeyr spog self met tientalle trekpleisters en die klein gemeenskappie vat hande om te verseker dat reisigers stop en geld spandeer.
Feesnaweek
'n Feesnaweek vanaf 20 tot 24 September gaan elke moontlike bron ontgin om vakansiegangers en tuisblyers met vreugde te vul.
Hofmeyr neem ook deel aan die Korreltjie Goud-uitdaging waar toeriste vrae kan beantwoord en pryse kan wen, nadat die grootste deel van die dorp opgegradeer is en steeds verbeter word.
Volgens Kruger het die Oos-Kaapse Parke- en Toerisme-agentskap (ECPTA) 'n deurslaggewende rol gespeel in die bestuur en bevordering van ons natuurlike bates.
"Die Oos-Kaap het 'n gewaagde en strategiese toerismevisie nodig wat werklike ekonomiese groei en gemeenskapsvoordele prioritiseer bo die burokratiese boksie."
Die Oos-Kaap se toerismepotensiaal is onmiskenbaar. Van die asemrowende Wildekus tot die ryk biodiversiteit van ons provinsiale en nasionale parke, het die provinsie al die regte bestanddele.
In Graaff-Reinet dwing die diversiteit van die Camdeboo Nasionale Park toeriste om dieper te kyk en langer te bly. Daarmee verdien die dorp om verken te word want dit is so ryk aan geskiedenis.
Die koraalpienk kerk in Hofmeyr lok talle toeriste. Foto's: Teresa Opperman
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’